Gebed is krities in die Rooyhuis. Rooyma stuur immers gereeld skietgebedjies op en soms is hierdie smeekgebede selfs hoorbaar vir die Rooymiere, soos wanneer sy vra vir krag, geduld of wysheid – veral teen daardie gevaarlike laatmiddaguur wanneer almal honger en effens kort van draad is.
Anderdae is dit Rooypa wat vir sy inwonende skoonma – na aanleiding van haar dogter se versoeke of optrede – vra om vir hom te bid.
Een Vrydaggoggend waarsku Teacher Mommy vir Oudste dat hy skouer aan die wiel moet sit omdat hy heelwat korreksies het.
Dit grootliks omdat hy soos iemand op Kyalami deur sy werk voortsnel.
Net ná die oggend se Bybelstudie, bid hy hardop: “Here, beskerm en bewaar my in die skool.”
Rooyma glimlag skelm en slaak stil ‘n sug van verligting oor haar oudste se gebedslewe.
Anderdag was Rooyma weer dankbaar toe sy Oudste se instruksieteks oor die maak van ‘n toebroodjie moes nasien.
Stap ses was “remember to pray,” gevolg met “wash you hands.”
Hoewel die handwas-rang mosterd na die maal was, is sy nietemin dankbaar dat die oor-en-oor-dieselfde-ding-sê iewers traksie gekry het – en so ook die tafelgebed-instelling.
Soms oordink Rooyma haar geliefdheid in haar kinders se oë, maar dan stem die drukkies of woorde van haar suigelinge haar soms sag.
So bieg Oudste een dag: “You’re a good teacher, Mommy, but I’m tired of school.”
Hierop bied hul pa aan om hulle te onderrig, waarop albei kinders ‘n besliste “no” antwoord.
Jongste kry die laaste sê in en verklaar ernstig: “You should pray. That’s your job, Daddy.”
Dalk is dit juis die les vir die Rooyhuis: Gebed is nie ‘n plig nie, maar ‘n taal en oorlewingstrategie – een wat selfs kinders al vroeg leer benut.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


