Jerobeum Titus (27) wys vandeesweek die letsels op sy maag waar hy geopereer is. Foto: Rasaad Adams
Jerobeum Titus (27) wys vandeesweek die letsels op sy maag waar hy geopereer is. FOTO: Rasaad Adams

PAARL – Jerobeum Titus (27), ‘n belowende jong krieketspeler en skolesport-assistent van Chicago in Paarl-Oos, het onlangs by die dood omgedraai nadat hy op 27 September – kort voor die begin van vanjaar se krieketseisoen – so erg aangerand is dat hy ‘n maand in die Paarl-hospitaal en twee weke in die Tygerberg-hospitaal moes deurbring.

Titus, die kaptein van Chicago se Kudu Lions-krieketklub, het vandeesweek aan Paarl Post gesê “daar lê nog ‘n lang herstelpad voor”.

Volgens Titus is hy deur een van sy spanmaats en twee ander mans aangerand weens ‘n misverstand oor ‘n boodskap wat op die krieketspan se WhatsApp-groep gestuur is.

“Die span se bestuur het basies gevra dat ek ‘n voice note op die groep moet stuur dat almal daardie middag (27 September) se spanbou moet bywoon. Die seisoen sou die volgende dag begin.

“Ek is gevra dat ek in die voice note moet sê dat dié wat nie by die spanbou- geleentheid gaan uitkom nie, nie die span gaan haal nie. Ek self glo dat die bestuur se bedoelings goed was – dit was regtig net ‘n manier om die ouens by die spanbou te kry,” vertel Titus.

Titus tydens sy tyd by die Black Panthers-krieketklub verlede jaar. FOTO: Verskaf

Hy sê later daardie middag is hy deur een van sy spanmaats in die straat oor die boodskap gekonfronteer.

‘n Stryery het glo tussen die twee uitgebreek en hulle het aan die baklei geraak.

Volgens Titus het sy spanmaat huis toe gehardloop en kort daarna saam met twee ander jong mans opgedaag. Al drie was glo met skerp voorwerpe bewapen.

Hy vertel hoe die drie hom aangerand het.

Hy het steekwonde aan verskeie dele van sy liggaam opgedoen.

Volgens Titus het hy in ‘n stadium die grond getref en is herhaaldelik geskop.

Hy sê hy vermoed dis waar hy ernstige abdominale beserings opgedoen het.

“Ek is toe hospitaal toe om vir die steekwonde behandel te word. Ek is aan die einde van daardie naweek ontslaan.

“Ek is toe kort daarna ingelig dat ek dringend terug Paarl-hospitaal toe moet gaan vir ‘n noodoperasie. Die hospitaal het toetste gedoen en niks anders fout gevind nie en ek is weer ontslaan.

“Die Donderdag daarna het ek steeds nie gesond gevoel nie en is toe na ‘n private dokter toe. Hy het gesê ek moet dadelik by die hospitaal uitkom want ek is besig om te sterf,” vertel Titus.

Die jong belowende krieketkaptein herstel tans by die huis aan. FOTO: Rasaad Adams

Hy vertel dat die mediese personeel met sy eerste hospitalisering nie die abdominale beserings opgetel het nie, en dit het vererger toe hy nie daarvoor behandel is nie.

“Ek was vir ‘n maand in die Paarl-hospitaal en is nog twee weke in die Tygerberg-hospitaal behandel.

“Al waaraan ek kon dink terwyl ek daar gelê het, was wat van my vierjarige seuntjie gaan word as ek dit nie maak nie,” vertel hy.

Titus is onlangs ontslaan en sterk tans by die huis aan.

Hy sê hoewel ‘n lang herstelpad voorlê, hoop hy om gou weer na die krieketveld terug te keer.

Hy sê hy help intussen met afrigting, sover as wat sy liggaam hom toelaat.

Titus sê ook hy hoop om binnekort sy posisie as skolesport-assistent by die Laerskool New Orleans te hervat.

Volgens hom is die spanmaat wat hom saam met twee ander aangerand het, permanent uit die span geskop.

Titus het bevestig dat die drie strafregtelik aangekla is en op 11 Januarie volgende jaar weer in die hof sal verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article