‘n Propvol feesweek wag op feesgangers by die 25ste Toyota Stellenbosch Woordfees wat amptelik in die Eikestad afgeskop het.
Dit is Vrydag, 10 Oktober ingelui tydens ’n mediafunksie by die US Museum en by die jaarlikse Woordfees-langtafel in Ryneveldstraat.
“Om ’n kwarteeu te kan vier, is ’n mylpaal vir ’n kunstefees in Suid-Afrika,” het Saartjie Botha,
direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, gesê.
LEES OOK: Sang, dans, kuier by fees
Volhoubaarheid bly vir haar ’n groot prioriteit in die huidige klimaat van die kunste in die land.
“Ons begin elke jaar van voor af met ’n leë boek. Oorlewing en volhoubaarheid bly die grootste
uitdaging. Jy gaan nie ’n fees van die grond af kry as jy dit halfgebak doen nie – jy moet voluit
gaan. Vir my is die geheimebestanddeel van die Woordfees ’n verbondenheid aan die literêre,
en diskoers, sonder om eksklusief te wees. Dit is ’n absolute voorreg om aan ’n fees te werk.
Nie net met die kunstenaarsgemeenskap nie, maar met die totale ekosisteem wat om ’n fees
vorm. Feeste maak dorpe beter plekke om te bly. Die energie en opwinding is tasbaar. En baie
bevredigend om dit te sien en te ervaar.”
Haar wens om die volhoubaarheid van die fees te verseker is dat die departement sport, kuns
en kultuur kunstefeeste ondersteun met subsidiëring “van ten minste 5% van ons begroting”.
Die geliefde Langtafel is weer onder die eike tussen die mooi ou geboue van die feeskern
gedek met feestelike kos en gesellige gaste. Die bekroonde kosskrywer, sjef en
TV-persoonlikheid Herman Lensing het sy unieke flair en warmte na die tafel gebring. Carla
McKenzie het die aand gelei en Moonshine en die Nomadic Orchestra, wat ook op vanjaar se
Toyota Musiekfees-program is, het vermaak gebied.


Die Universiteit Stellenbosch (US), wat die geboorteplek en stigtersborg van die Woordfees
is, het by die mediabekendstelling erkenning gegee aan die kunste se noodsaaklike rol in goeie
wetenskapsbeoefening. Die US is verteenwoordig deur prof. Nico Koopman, viserektor in die
afdeling sosiale impak, transformasie en personeel.
Die rol van kunstefeeste om Afrikaans as taal en kultuur “kerngesond” te help hou is benadruk
deur Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24 en Afrikaanse nuus by Media24.
“Dis ’n plek waar ’n hele spektrum van Afrikaanse mense bymekaar kom met hulle verskillende,
uiteenlopende sienings en belangstellings, en elkeen ook met sy eie beleefde werklikheid. En
by hierdie feeste vind hulle mekaar, hulle kuier saam, hulle kry nuwe insigte, hulle kry gedeelde
begrip, en dit wat hulle onbewustelik ervaar kan hulle vertolk sien op ’n teaterverhoog – dit wat
hulle nie altyd in woorde kan uitspreek nie.”
’n Vernuwende fees
“Die Woordfees spesifiek bly heeltyd vernuwe,” sê Loubser. “Ons kunsredakteur, Laetitia Pople
wys gereeld vir my uit hoe die program uiters goed beplan word tussen hoë en uitdagende
kuns.”
Sy lig Breyten Breytenbach se opspraakwekkende toneelstuk Boklied as voorbeeld uit, teenoor
die “heerlikheid” van Chris Vorster se stuk Gebou soos Steffi Graf, wat gaan oor ’n herbesinning
oor jeug en studentepret.
“En elke jaar bring hulle ook iets na die fees wat werklik anders en uniek is. Vanjaar is dit Die
veldhospitaal op die Libertas-plaas, waar hulle lekker gaan eksperimenteer met ’n gehele
ervaring van visuele kuns, musiek en optredes.”
Leon Theron, senior visepresident van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors,
sê dit is vir hulle absoluut sinvol om by die Woordfees betrokke te wees.
“Ons as Toyota voel baie sterk dat groot maatskappy soos ons betrokke by ons tale en ons
kunste moet wees, want dit skep ’n ongelooflike platform vir veral jong mense met talent om
hulleself ten toon te stel.”
LEES OOK: Trek jou tekkies aan en kom trap vas vir Afrikaans!
Dominique Botha van die Spier-kunsteraad eggo Saartjie se wens vir die Woordfees en ander
kunstefeester – dat “hierdie Springbokke van kultuur” die nodige ondersteuning kry.
Isabel Verwey, trustee van die Het Jan Marais Nationale Fonds, sê dit maak baie sin vir dié
fonds om die Woordfees te ondersteun in verhouding met dit waarvoor die trust staan – “om
Afrikaans as taal te bevorder, én om Afrikaanssprekendes in en om Stellenbosch te bevorder.
En wel, die Woordfees tiek altwee boksies”.
Die Toyota Stellenbosch Woordfees se storie het in die jaar 2000 begin by ’n deurnagviering van
Afrikaanse woordkuns, ’n Nag van passie. En oor die laaste 25 jaar het dit gegroei tot een van
die grootste kunstefeeste in Afrika. Die 25ste fees is ’n viering van uiteenlopende én
samesmeltende stories met die tema “Deel” en meer as 400 aanbiedings op die feesprogram.
Daar is iets vir almal en daar is nog kaartjies beskikbaar.
Van 11 tot 19 Oktober kan jy “Deel” kom wees deel van ’n betekenisvolle ervaring, van ’n lentepartytjie wat bruis met kuns, musiek, drama en vermaak – ’n storie vir almal. Kaartjies is beskikbaar by Quicket.
Vind die volle feesprogram, aanbevelings en feesnuus op woordfees.co.za



You must be logged in to post a comment.