Die vervalle ou Paarl-poskantoor langs die Hugenote-treinstasie in Klein Drakensteinweg, wat die afgelope maande ‘n broeiplek vir haweloses en misdadige aktiwiteite geword het, kry kritiek uit alle oorde.
Die Paarl-belastingbetalersvereniging het verlede jaar die Drakenstein-munisipaliteit (DM) daarvan beskuldig dat hy nie sy eie plaaslike wetgewing ge-bruik om druk op die nasionale regering en die eienaar van die gebou, die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), toe te pas nie.

Volgens die vereniging het ernstige vandalisme sedert Desember 2023 toegeneem, met ‘n groot deel van die dak en bykans al die vensters wat geplunder is. Die gebou word boonop gereeld deur haweloses beset, en vure is selfs binne die perseel gemaak.
David Frost, voorsitter van die belastingbetalersvereniging, het destyds gesê inwoners is geregtig op ‘n veilige en skoon omgewing. “Dit is ‘n skande dat die nasionale regering toelaat dat geboue in sy besit en beheer tot so ‘n toestand verval. Die wetgewing laat die munisipaliteit toe om die eienaar verantwoordbaar te hou vir die stand van die gebou.”
Die DM het egter vandeesweek bevestig dat Prasa wel optrede beplan. Volgens Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het Prasa reeds in die verlede onwettige inwoners uit die gebou verwyder, maar omdat dit oop en toeganklik gebly het, het hulle telkens teruggekeer.

Prasa het die munisipaliteit meegedeel dat hulle van eergister (16 September) tot môre (19 September) weer ‘n proses gaan begin om die gebou permanent te ontruim. Hulle het ook vir dringende ingryping van hul fasiliteitsafdeling gevra om ‘n terreininspeksie te doen, die gebou deeglik skoon te maak en rommel met ‘n vragmotor te verwyder. Hoewel Prasa vroeër aangedui het dat ‘n potensiële huurder belangstelling getoon het, is daar volgens die jongste terugvoer van die DM geen verdere besonderhede oor verhuurplanne beskikbaar nie.
Johaar beklemtoon dat die Drakenstein-munisipaliteit die kommer van inwoners en ondernemings oor die gebou deel en dat die saak voortdurend met Prasa opgevolg sal word.
Paarl Post het uitgereik na Prasa, maar geen terugvoering ontvang nie.





