Geen duidelikheid het al na vore gekom oor wanneer die noordelike tonnel reg langs die bestaande Hugenote-tonnel klaar gebou gaan wees nie, met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) wat bevestig het dat opgraderings aan dié tweede tonnel steeds op ‘n tender uitgeplaas is en die aansoeke tans geëvalueer word.
Volgens Lwando Mahlasela, ‘n woordvoerder van Sanral, sal die konstruksie van die noordelike tonnel bewerkstellig dat die Hugenote-tonnel “twee tonnelboë het, wat as ’n dubbeltonnelstelsel werk, met twee bane verkeer in elke rigting”.
“Die ingebruikneming van die noordelike boorwerk behels die aanbring van ’n betonvoering, padoppervlak, ventilasie, beligting en tonnelbestuurstelsels, onder andere. Sodra dit in gebruik gestel is, sal verkeer na die noordelike tonnel verskuif word, terwyl die suidelike tonnel tot dieselfde internasionale standaarde opgradeer sal word.”
LEES OOK: Tunnel sees jobs, growth
Mahlasela het verduidelik dat konstruksie van die noordelik tonnel, wat die staat na beraming, R4,5 miljard uit die sak sal jaag, na verwagting vyf jaar sal duur nadat ‘n tender toegeken is. Dit bly onseker wanneer bouwerk kan begin omdat die proses steeds in die tenderfase is.
Volgens Mahlasela is die Hugenote-tonnel die langste padtonnel in Afrika met ’n lengte van 3,9 km.
Paarl Post het verlede jaar breedvoerig oor die noordelike tonnel berig toe Barbara Creecy (die nasionale minister van vervoer), Reginald Demana (die uitvoerende hoof van Sanral), Isaac Sileku (Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit) en Stephen Korabie (die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit), die tonnel besoek het.

Creecy het destyds aan die koerant gesê dat die konstruksie van die noordelike tonnel ongeveer 500 werksgeleenthede sal skep.
Volgens haar vorder die tolhek ongeveer R450 miljoen per jaar in en kos dit die staat ongeveer R60 miljoen om die tolhek te bestuur.
“Daarom glo ons [die departement van vervoer] dat dit finansieel haalbaar en volhoubaar sal wees om die padtoestande hier te verbeter sonder om die basislyn-tolgeld te verhoog,” het Creecy gesê.
Creecy het ook padgebruikers verseker dat die bouwerk minimale ontwrigting vir verkeer sal veroorsaak wanneer konstruksie aan die noordelike tonnel begin.
LEES OOK: Huguenot Tunnel is to be improved
Die tonnel, wat al 37 jaar gebruik word, verkort die reis tussen Paarl en Worcester met 11 km en is die voorkeurroete vir motoriste en vragmotorvervoer op hierdie belangrike roete. Dit dra sowat 14 000 voertuie per dag, waarvan ongeveer 2 800 swaarvoertuie is. Meer as 115 miljoen voertuie het al deur die Hugenote-tonnel beweeg. Ten tyde van die bouwerk in die 1980’s is die noordelike tonnel deur die berg aangebring, maar dit is nie destyds in gebruik gestel nie, het Mahlasela verduidelik.



