tonnel
Geen duidelikheid het na vore gekom oor wanneer bouwerk aan die noordelike tonnel langs die bestaande Hugenote-tonnel sal begin nie. Foto: Argief/ Rasaad Adams

Die lankverwagte uitbreiding van die Hugenote-tonnel buite die Paarl bly vasgevang in die tenderfase, met geen bevestigde aanvangsdatum vir konstruksie nie, ondanks grootskaalse beleggings, tegnologiese opgraderings en selfs ambisieuse planne vir ’n ondergrondse wetenskaplike laboratorium.

Paarl Post het vroeër vanjaar berig dat die bou van die sogenaamde noordelike tonnel steeds nie aan ’n kontrakteur toegeken nie, al is die tender reeds in 2024 geadverteer. Die projek, wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) bestuur word, bly dus steeds in limbo.

Opgraderings

Hoewel die nuwe tonnel nog nie begin is nie, het Sanral die afgelope paar jaar aansienlik belê in die opgradering van die bestaande (suidelike) tonnel.

Volgens die agentskap se “Milestones in Motion-dokument” van 2024 sluit voltooide verbeterings onder meer in

  • Nuwe boodskapborde en LED-padtekens om beter met padgebruikers te kommunikeer;
  • Meganiese dempers in die tonnel se plafon vir vinniger rookonttrekking in noodgevalle;
  • Die vervanging van sowat 6 000 ligte met energiedoeltreffende LED-ligte; en
  • Opgradering van skakeltoerusting wat die elektriese stroom in die tonnel sal reguleer.

Sanral het oor die afgelope vyf jaar ongeveer R426 miljoen bestee aan padveiligheid en operasionele verbeterings in die tonnel, luidens die dokument.

Verbeteringe in die pyplyn

Verskeie nuwe opgraderings word ook beplan om veiligheid en doeltreffendheid verder te verbeter. Dit sluit in:

  • Deursigtige windskerms op die Hugo’srivier-brug aan die Paarl se kant van die tonnel om die risiko van vragmotors wat omwaai te verminder;
  • Sensors om luggehalte, verkeer en ligtoestande te monitor;
  • Intelligente ligbeheer vir beter sigbaarheid en energiebesparing;
  • Windturbines by tonnelingange om energieverbruik te verminder;
  • ’n Gevorderde ventilasiestelsel met verspreide straalwaaiers vir vars lug; en
  • ’n Bykomende hoëvlakwaterreservoir vir brandnoodgevalle.

Hierdie verbeterings vorm deel van ’n breër strategie om die tonnel op internasionale standaarde te bring, het die dokument verduidelik.

R4 miljard-projek wag nog op groen lig

Die beoogde uitbreiding van sowat R4 miljard sal, sodra ‘n tender toegestaan is, die huidige enkel, tweerigtingtonnel omskep in twee aparte tonnels met eenrigtingverkeer in elk. Dit sal nie net verkeersvloei verbeter nie, maar ook veiligheid aansienlik verhoog op die besige N1-roete tussen die Paarl en Worcester.

LEES OOK: Noordelike Hugenote-tonnel buite die Paarl steeds in tenderfase

Sanral se uitvoerende hoof, Reginald Demana, het in die “Milestones in Motion-dokument” bevestig dat die planne tans in die ontwerpfase is en dat die tweede tonnel die infrastruktuur in lyn sal bring met internasionale beste praktyk.

Paarl Africa Underground Laboratory

Intussen is daar ook planne om die tonnel se unieke ondergrondse omgewing vir gevorderde navorsing te gebruik met ’n ondergrondse wetenskaplike laboratorium genaamd Paarl Africa Underground Laboratory (Paul) wat moontlik teen 2027 ontwikkel kan word.

TONNEL
Die noordelike tonnel. Foto: Argief/ Richard Newman Credit: SYSTEM

Die laboratorium sal naby die noordelike tonnel gevestig word en wetenskaplikes in staat stel om eksperimente diep onder die grond uit te voer, soos die soeke na subatomiese deeltjies waaruit donker materie bestaan, weg van alledaagse steurings op die aarde se oppervlak.

Prof. Richard Newman, ‘n kernfisikus van die Universiteit Stellenbosch (US) se fisika-departement, wat die projek bestuur, het destyds aan Paarl Post verduidelik dat die laboratorium die eerste van sy soort in Afrika sal wees.

LEES OOK: Dark-matter lab planned for 2027 at Hugenot Tunnel

Newman het intussen teruggetree as projekbestuurder terwyl prof. Shaun Wyngaardt, hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se fisikadepartement, aan die stuur is.

Paarl Post het navrae aan Wyngaardt gestuur, wat bygevoeg sal word sodra dit ontvang is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article