Boer soek ’n vrou is een van Suid-Afrika se gewildste en langdurigste werklikheidsreekse. Sedert 2008 volg kykers getrou die lief en leed van boere wat na liefde hunker – en oor die jare het dié reeks al talle mense se geloof in ware liefde, plattelandse romanse en tweede kanse herbevestig.
Hier is ’n paar springmieliefeite oor dié kykNET-trefferreeks, waarvan die 18de seisoen op Donderdag 23 Julie begin:
1. Die eerste episode is in 2008 uitgesaai
Die heel eerste episode van Boer soek ’n vrou is op 30 September 2008 op kykNET uitgesaai. Kykers het egter reeds ’n paar maande vroeër, op 14 Julie 2008, vir die eerste keer met die reeks kennis gemaak toe ’n loodsepisode van die tien boere wat liefde soek, gewys is.
2. Seisoen 18 bring die totaal op 180 boere
Wanneer die agtiende seisoen uitgesaai word, beteken dit dat 180 hubare boere sedert 2008 op die kassie verskyn het – almal met dieselfde hoop: om iemand spesiaal te ontmoet.
3. Die reeks het internasionale wortels
Boer soek ’n vrou is op ’n internasionale formaat gebaseer wat in tientalle lande vervaardig word. Die formaat is vyf-en-twting-jaar oud en is die eerste keer in 2001 in Brittanje as Farmer wants a Wife uitgesaai.
4. Die Suid-Afrikaanse weergawe is besonder suksesvol
In Suid-Afrika is die vervaardigers bewus van ten minste 32 suksesverhale van boere wat as gevolg van hul deelname aan die reeks die pad na die kansel gestap het. Dit maak die plaaslike weergawe van dié maatsoekreeks een van die suksesvolste ter wêreld.
5. Die Wes-Kaap lewer die meeste boere
As ’n mens na die 180 boere oor 18 seisoene kyk, staan die Wes-Kaap boaan die lys met 42 boere. Daarna volg die Vrystaat met 38, die Noord-Kaap met 26, Mpumalanga met 18 en Limpopo met 17. Die Oos-Kaap en Noordwes het elk 13 boere opgelewer, gevolg deur KwaZulu-Natal met 8 en Gauteng met 5.
6. Robertson is die dorp wat die meeste opduik
Robertson is die mees algemene dorp of area onder die boere, met vier boere wat daarmee verbind word. Ander dorpe wat gereeld voorkom, sluit Cradock, Vryburg, Dwaalboom, Harrismith en Clanwilliam in.
7. Johan is die gewildste boerenaam
Wanneer Johan, Johann en Johannes saamgetel word, is dit die mees algemene benaming van boere, met agt boere. Daarna volg Pieter met ses, Francois met vier, en name soos Arno, Hennie, Louis, Albert, Niel en Jacques met drie elk.
8. Daar was 13 vroueboere oor die jare
Daar het 13 vroueboere oor 18 seisoene deelgeneem. Dit was egter eers in 2018 dat boer Toanette die eerste vrou was wat genoeg briewe ontvang het om onder die top-vyf boere te wees wie se liefdespaadjie in die reeks gevolg is.
9. Damian was die eerste openlik gay boer
Damian, wat in 2019 vir die twaalfde reeks ingeskryf het, was die eerste openlik gay boer in Boer soek ’n vrou. Hy het boonop daardie seisoen ook die meeste briewe ontvang.
10. Joachim bly die briefkampioen
Boer Joachim, wat in die eerste seisoen verskyn het, het tot dusver nog die meeste briewe ooit ontvang.
11. Sewe aanbieders het al die liefdespad gestap
Oor die jare het sewe aanbieders die land deurkruis om boere in hul soeke na liefde by te staan. Hulle was Elma Postma, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Minki van der Westhuizen, Leah van Niekerk, Marciel Hopkins en Reandi Grey.
12. Die produksiespan kon byna maan toe en terug ry
Oor 18 jaar is daar al meer as 650 000 km deur die vervaardigingspan afgelê terwyl hulle die land deurkruis het. Ter vergelyking: die maan is sowat 384 400 km van die aarde af. Dis dus amper genoeg kilometers om maan toe en ’n groot deel van die pad terug te ry.
ALSO READ: kykNET soek boere vir 18de seisoen van gewilde liefdesreeks





