Terwyl die land se oog nog op Herman Lensing en Yolani Abrahams as Suid-Afrika se volgende bobaashuiskokke in Kokkedoor: Son & see gevestig is wat op Donderdag 20 November begin, kan kykers reeds begin droom oor nuwe romantiese moontlikhede.
Kupido maak gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van die gewilde kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou af te vuur, ná ’n suksesvolle vorige seisoen vol kinkels en hartroerende liefdesverhale.
Kykers kry Donderdag 13 November om 20:00 op kykNET hul eerste kykie na die tien nuwe boere wat vanjaar hulle harte oopmaak vir die liefde.
Diverse groep uit ses provinsies










Die nuwe boere-oes verteenwoordig ’n diverse groep met ouderdomme wat wissel van 26 tot 43 jaar. Hulle kom uit ses van die land se nege provinsies, met die Vrystaat wat die voortou neem met vier enkellopendes.
Opvallend is dat Noordwes deur ’n vroueboer verteenwoordig word – Leandi (36) van Ventersdorp, wat as beesboer ’n manlike pasmaat soek.
Die boere se beroepe wissel van tradisionele gemengde boerdery tot gespesialiseerde areas soos bosbou, natuurbewaring en makadamianeutverbouing.
Wie is die boere:
Vanuit Limpopo:
• Arno (28) – Tzaneen se bosbouboer soek ’n vroulike pasmaat
Vanuit Mpumalanga:
• Francois (34) – Hoedspruit se natuurbewaarder
• Jacques (32) – Nelspruit se makadamianeutboer
Vanuit Wes-Kaap:
• Jack (30) – Hermanus se appel- en peerboer
Vanuit Noord-Kaap:
• Luan (26) – Strydenburg se skaapboer
Uit Noordwes:
• Leandi (36) – Ventersdorp se beesboer (soek manlike pasmaat)
Uit Vrystaat:
• David (43) – Vierfontein se gemengde boer
• JD (28) – Reitz se gemengde boer
• Junior (35) – Bethlehem se gemengde boer
• Willie (37) – Harrismith se bees- en mielieboer
Vine more op NovaNews meer uit oor al hierdie boere en die liefde wat hulle smag!
Hoe om deel te neem
Die reeks, wat in Augustus 2026 op kykNET uitgesaai sal word, sal soos altyd fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het. Kykers sal dan hierdie uitverkore boere se liefdesreise kan volg.
Voornemende pasmaats het tot middernag 4 Desember 2025 tyd om vir die boere te skryf en kan dit op verskeie maniere doen:
• Besoek www.kyknet.tv vir volledige profiele
• Bel vervaardigers Wolflight by 079 614 2229
• E-pos: boer@wolflightsa.com
• Pos: Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
• Laai die Afrikaanse maatsoek-app KOER af vir boere se profiele
Met ’n ryk geskiedenis van suksesvolle paartjies en blywende liefdesverhale, beloof die 18de seisoen van Boer soek ’n vrou weereens om kykers se harte te steel en moontlik lewens te verander.
LEES OOK: kykNET soek boere vir 18de seisoen van gewilde liefdesreeks






You must be logged in to post a comment.