Steenhuisen maak vanaand sy hart oop oor politiek, liefde en landbou in kykNET-onderhoud

Die leier van die Demokratiese Alliansie (DA) en minister van landbou, John Steenhuisen, maak sy hart uitgepraat oop oor ’n wye reeks onderwerpe tydens ’n intieme onderhoud op kykNET se gewilde program “Waar daar ’n wil is” saam met aanbieder Lee-Ann van Rooi op 11 November.
DA leier en minister van landbou, John Steenhuisen, maak sy hart oop op kykNET se gewilde program “Waar daar ’n wil is”.

Die leier van die Demokratiese Alliansie (DA) en minister van landbou, John Steenhuisen, maak sy hart oop oor ’n wye reeks onderwerpe tydens ’n intieme onderhoud op kykNET se gewilde program “Waar daar ’n wil is”, saam met aanbieder Lee-Ann van Rooi op 11 November.

Die 48-jarige politikus praat openhartig oor sy ervaring as deel van die Suid-Afrikaanse afvaardiging wat president Donald Trump in die Oval Office besoek het, sy persoonlike reis in die politiek, en hoe hy liefde gevind het te midde van politieke storms.

Steenhuisen beskryf die besoek aan president Trump op 21 Mei as “’n eer” en vergelyk dit met ’n krieketwedstryd waar jy “vir jou land kolf”. Hy het beklemtoon dat die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) juis ingestel is om radikale elemente uit die regering te hou.

“Ons was almal daar om die land op ’n internasionale verhoog te verteenwoordig,” het Steenhuisen gesê, en bygevoeg dat dit belangrik was om Suid-Afrika weer “op die voorvoet in die verhouding met Amerika” te plaas.

DA-leier John Steenhuisen praat openlik op kykNET met Lee-Ann van Rooi oor politiek, liefde en landbou.

Van kelner tot kabinet

Die DA-leier het sy nederige begin in die politiek uitgewys toe hy op 22-jarige ouderdom die arena betree het. Hy het as jong man in ’n Franse restaurant in uMhlanga gewerk en later vir ’n maatskappy wat woonstelgeboue bestuur het.

“Jy leer baie van mense as jy daardie werk doen,” het hy verduidelik. Sy tien jaar as wyksraadlid vir die destydse Demokratiese Party (DP) het ’n stewige fondament vir sy verdere politieke loopbaan gelê.

Met ’n knipoog na sy akademiese agterstand, het Steenhuisen gespot: “Ek is ’n bietjie moeg om Suid-Afrika se mees beroemde matrikulant te wees.” Hy is tans besig met verdere studies om sy graad te voltooi.

Liefde te midde van politiek

In ’n ontroerende oomblik het Steenhuisen oor sy huwelik met sy tweede vrou, Terry, gepraat. Die twee het mekaar ontmoet terwyl albei nog getroud was.

“Dit was beslis ’n geval van liefde met die eerste oogopslag. Ek wens dit kon onder ander omstandighede gewees het, maar ná 15 jaar van getroud wees en net geluk, is dit wonderlik om huis toe te kom na iemand wat verstaan waardeur jy gaan,” het hy vertel.

Landbou-passie

Die benoeming as landbouminister was ’n oomblik van onsekerheid, het Steenhuisen erken. “Die eerste aand toe ek dit rêrig geglo het, is toe die president die name genoem het op televisie.”

As Engelssprekende Suid-Afrikaner in ’n oorwegend Afrikaanse sektor, het hy groot waardering ontwikkel vir die landbougemeenskap.

“Die mense in die landbousektor is die beste mense in die land. Hulle sien nie probleme nie – hulle sien geleenthede om dinge reg te kry. Hulle help nie net met kos op die tafel nie, maar met ekonomiese groei,” het hy beklemtoon.

Optimisties oor toekoms

Ten spyte van uitdagings, bly Steenhuisen optimisties oor Suid-Afrika se toekoms, maar beklemtoon die noodsaaklikheid van vinniger ekonomiese groei.

“Wanneer die ekonomie groei, spreek dit ook probleme soos werkloosheid, sosiale kwessies en misdaad aan. Ons moet ophou praat en begin dóén,” was sy boodskap.

Twee van sy vriende, Steve Ikin en Sandy van Hoogstraten, het tydens die program getuig van Steenhuisen se lojaliteit, sin vir humor en vrygewigheid, veral sy talent as kok wat graag sy vriende aan tafel bederf.

Lee-Ann van Rooi sluit die onderhoud af met ’n boodskap wat sy spesiaal vir hom geskryf het: “Landbou is nie vir sissies nie. Want om te bou in hierdie land, moet jy ’n hand vashou; vasklou vir ewig blou, want landbou is nie vir sissies nie.”

“Waar daar ’n wil is” word Dinsdae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article