Vir Mialè Bindemann (18), ‘n matrikulant aan Hugenote Hoërskool in Wellington, is ‘n koerant nie net iets om te lees nie, maar die materiaal vir ‘n matriekafskeidsrok wat haar eie lewensverhaal vertel.
Die unieke rok, wat sy onlangs ook na haar skool se lentetee gedra het, is veel meer as ‘n kreatiewe modekeuse. Elke woord, naam en blom vertel ‘n stukkie van haar lewe, met spesiale erkenning aan die mense wat haar help vorm het.
Die idee het ontstaan toe Mialè en haar ma, Cecile, een aand oor die wêreld se kompeterende aard gesels het; ‘n wêreld waar alles altyd groter, beter en duurder moet wees.
“Die motto in ons huis is ‘Blom waar jy geplant is’ en ‘Werk met wat jy het’. Van hier het ek gesê: ‘Mamma, ek gaan sommer in ‘n koerantpapierrok matriekafskeid toe, net om te wys dat dit nie altyd nodig is om deel te word van die wêreld se kompetisie nie.’ Ek was vyf jaar oud,” vertel Mialè.
Droom word bewaarheid
Die droom het jare lank bly leef, met die gesin wat doelbewus wou wys dat iets besonders nie noodwendig ‘n fortuin hoef te kos nie.
Een van die grootste uitdagings was om iemand te vind wat die ongewone ontwerp kon aanpak. Die oplossing het vroeër vanjaar op ‘n onverwagse manier opgedaag toe Cecile by Nadine Cilliers, wat pas van Langebaan na Wellington verhuis het, beland het om haar wenkbroue te laat doen.
LEES OOK: Matriekafskeid 2026: ’n Aand om te onthou
“Ek glo die Here het vir ons iemand aan die begin van die jaar presies hiervoor gestuur ,” sê Mialè. Nadine, wat ook ‘n grafiese ontwerper is, het dadelik ingestem om die uitdaging aan te pak.
Die rok is uiteindelik ‘n spanpoging. Nevelene Moolman, ‘n bekende op die dorp wat jare gelede ook Cecile se trourok gemaak het, het die romp van ongebleikte linne met ‘n stukkie satyn bo-oor gemaak. Die bostuk is op Temu gekoop, terwyl Nadine die koerantpapierblomme vervaardig het.
Die idee vir die gedrukte teks het tydens ‘n reis na Namibië verder ontwikkel, toe Mialè besluit het om ‘n storie oor haar skoolloopbaan te skryf, met die name van mense wat haar lewe beïnvloed het daarin verweef.
‘’n Stukkie van myself’
Die teks is op lap gedruk en verseël. Daarna moes die bostuk aangepas word sodat Nadine die drukwerk met haar getroue gomgeweer kon knip, pas en vasplak.
Op die rok is Mialè se eie verhaal, met spesiale erkenning aan haar ouers, haar “hero“-boetie en laatlam-sussie, haar beste vriendinne – met wie sy reeds sedert gr.R maats is – en onderwysers wat ’n blywende indruk op haar gemaak het. Haar jare lange dramamentor, juffrou Alma, en Nadine, wat gehelp het om die droom te verwesenlik, kry ook hul plek.
“Dan is daar ‘n stukkie oor myself, my drome en ideale en my Hugenote’s wat my help vorm het,” sê sy.

Die maakproses het oor verskeie weke gestrek. Nevelene het die romp binne ‘n week voltooi, terwyl Nadine vir twee weke aan die papierblomme gewerk het. Die drukwerk het ‘n dag geneem, gevolg deur nog ‘n dag se knip- en plakwerk.
Vir Cecile was die projek ‘n emosionele sowel as ‘n kreatiewe ervaring. “Ek is ongelooflik trots op Mialè, omdat sy braaf genoeg is to dare to be different. Sy maak nie die wêreld en sy chaos deel van haar nie. Sy karring rondom haar eie as,” sê sy.
Die eerste keer toe Mialè die voltooide rok aangetrek het, het die emosies hoog geloop. “Ek en my ma het in trane uitgebars die eerste keer toe ek die eindproduk aantrek. Dit was nie net oor hoe mooi dit lyk of hoe naby aan ons harte dit was nie, maar omdat ons jare lange droom bewaarheid is,” vertel sy.
Vir haar voel die rok soos ‘n persoonlik gedrukte koffietafelboek waarin sy heeltemal haarself kan wees.
Mense in ekstase
Die reaksie by die matriekafskeid en lentetee het gewys hoeveel betekenis die ontwerp vir ander ook dra. Mialè se vriendinne, hul ma’s en onderwysers wat hul name op die rok raakgelees het, was in trane. Haar vriendinne se name daarop was boonop ‘n verrassing vir hulle.
“Die tannies by die lentetee was in ekstase. Die komplimente vir die idee het nie opgehou nie. Ek voel oorweldig en dankbaar. Ons het nooit gedink dat ons eenvoudige idee so ‘n impak sou hê nie,” sê sy.
Hoewel sy geweet het dat die rok nie almal se smaak sou wees nie, is sy nie spyt oor haar besluit nie.
Hierdie selfvertroue pas by ‘n jong vrou wat van kleins af weet dat sy ‘n loopbaan in die uitvoerende kunste wil volg. Ná ‘n besige skoolloopbaan wil sy volgende jaar egter eers asem skep en ‘n blaaskans van haar vol program neem. Haar plan? Om op ‘n boot te gaan werk en die wêreld van seiljagte te verken.
Mialè, wat vanjaar Hugenote se onderhoofmeisie van kultuur is, lag dat haar sussie haar ‘n “regte drama queen” noem.
“Die arme kinders by die skool het seker nie ‘n ander keuse gehad as om my hulle onderhoofmeisie van kultuur te maak nie. Wat ‘n voorreg was dit nie!”
En dalk som haar eie woorde die rok én die jong vrou daaragter die beste op: “What you see is what you get, just don’t get upset.”



You must be logged in to post a comment.