Saaiboere se sak geruk, juis noudat volgende oes gevestig moet word

Trekker op die land.
Die invloed van duurder diesel strek veel verder as die brandstof wat trekkers en ander landboumasjinerie gebruik. FOTO: Hendrik Knobel / Argief

Saaiboere se sak geruk, juis noudat volgende oes gevestig moet word

Trekker op die land.
Die invloed van duurder diesel strek veel verder as die brandstof wat trekkers en ander landboumasjinerie gebruik. FOTO: Hendrik Knobel / Argief

Die skerp styging in brandstofpryse dreig om Suid-Afrikaanse saaiboerdery se winsgewendheid verder te knou, juis wanneer groot bedrae bestee moet word om die somerplantseisoen te begin.

Die Transvaalse Landbou-unie SA (TLU SA) waarsku dat duurder diesel, stygende insetkoste en onsekerheid oor weersomstandighede en kommoditeitspryse die geldelike risiko van die komende produksieseisoen aansienlik verhoog.

Invloed van duurder diesel strek veel verder

Die brandstofprysaanpassings wat op 7 Oktober in werking getree het, het die prys van 93-oktaan-petrol met R3,12 per liter en dié van 95-oktaanpetrol met R3,33 per liter verhoog. Die groothandelprys van diesel het, afhangend van die swael-inhoud, met onderskeidelik R2,84 en R3,24 per liter gestyg.

Internasionale oliepryse, geopolitieke spanning en onsekerheid oor olievoorsiening het tot die verhogings bygedra.

LEES OOK: Diesel supplies to remain ‘tight’ into 2027: IEA

Volgens die TLU SA lê die grootste probleem egter in die tydsberekening daarvan. Boere moet nou aansienlike geldelike verpligtinge aangaan om hul volgende oes te vestig, sonder sekerheid oor die uiteindelike opbrengs, weersomstandighede of produkpryse.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, sê die boer moet dié risiko nou aanvaar, sonder dat hy weet of die komende seisoen voldoende inkomste sal oplewer.

Die invloed van duurder diesel strek veel verder as die brandstof wat trekkers en ander landboumasjinerie gebruik. Saad, kunsmis, chemikalieë en ander insette moet na plase vervoer word, terwyl diesel ook vir grondvoorbereiding, plantwerk en die oesproses nodig is. Daarna moet die produkte na silo’s, verwerkingsaanlegte en markte vervoer word.

Die verhogings laat dus koste op verskeie punte in die landbouwaardeketting styg.

Boere kan boonop nie noodwendig bykomende uitgawes in hul produkpryse verhaal nie, aangesien markkragte grootliks hul inkomste bepaal.

Winsgewendheid bly belangrike voorwaarde

Van Zyl waarsku dat selfs ‘n goeie oes nie noodwendig winsgewend is nie. Wanneer produsente jaar ná jaar meer moet bestee om dieselfde hoeveelheid voedsel te produseer, maar al hoe minder wins oorhou, kom die ekonomiese volhoubaarheid van hul ondernemings onder druk.

Die TLU SA wys ook op binnelandse probleme wat die uitwerking van duurder brandstof vererger, waaronder swak paaie, beperkte spoorvervoer en logistieke ondoeltreffendheid.

Die organisasie meen beter bestuur van strategiese brandstofvoorrade en doeltreffender logistiek kan Suid-Afrika se kwesbaarheid vir internasionale skokke help beperk. Hoewel boere deur gesamentlike insetaankope en beter beplanning sekere uitgawes kan probeer beperk, sal dié maatreëls nie die volle invloed van die prysverhogings uitskakel nie.

Die TLU SA waarsku die situasie waarin produsente minder plant, of investering uitstel, kan landelike ondernemings, werksgeleenthede en die breër voedselwaardeketting raak. Winsgewendheid bly daarom ‘n belangrike voorwaarde vir Suid-Afrika se langtermyn-voedselsekerheid.

LEES OOK: Elke druppel tel in Jacobsdal

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article