RSG en Virseker Kultuurkaravaan het onlangs op Jacobsdal gaan kuier.
RSG en Virseker Kultuurkaravaan het onlangs op Jacobsdal gaan kuier.

Elke druppel tel op Jacobsdal


JACOBSDAL – In ’n landbougemeenskap is water nooit bloot deel van die agtergrond nie.

Dit bepaal wat geplant kan word, hoeveel vee aangehou kan word, of ’n onderneming kan groei en, uiteindelik, of families ’n bestaan kan maak.

Op Jacobsdal in die Vrystaat het die RSG en Virseker Kultuurkaravaan ’n gemeenskap ontmoet waar water deel geword het van ’n veel groter storie oor volharding en aanpasbaarheid.

Jacobsdal is 'n plek waar elke druppel tel.
Jacobsdal is ‘n plek waar elke druppel tel. FOTO: Verskaf

Tydens die besoek het die Kultuurkaravaan gehoor hoe ’n droogte van byna tien jaar letsels gelaat het, maar ook nuwe denke laat ontkiem het. Die plaaslike waterskema het volgens RSG die ontwikkeling en voorspoed van die distrik ingrypend beïnvloed. 

Hanke du Toit van die Oranje-Riet Watergebruikersvereniging en André Labuschagne van Jacobsdal Abattoir het met die span gesels oor ’n plaaslike ekonomie waarin saai-, pekanneut-, skaap- en beesboerdery ’n belangrike rol speel. 

Vir Morné van Emmenes, senior bestuurder by Virseker, is dit een van die stories wat die doel van die Kultuurkaravaan mooi vasvang. “Wanneer jy van buite af na ’n dorp kyk, sien jy dalk net plase en strate. Wanneer jy met mense begin praat, hoor jy hoeveel kennis, aanpasbaarheid en jare se ervaring agter die voortbestaan van ’n gemeenskap lê.”

Jacobsdal se storie gaan egter nie net oor landbou nie.

Die Kultuurkaravaan het ook mense ontmoet wat op ander maniere help om die identiteit van die dorp te beskerm.

LEES OOK: Radioman bespreek ‘onthouboek’ by Malmesbury-boekklub as deel van landwye bekendstelling.

Onder hulle was Nonnie Groenewald (81) reeds dekades in die Jacobsdal-distrik woon en betrokke is by die plaaslike Historiese Vereniging, waar daar gewerk word om die dorp se erfenis te bewaar. Die span het ook met Esmé Viljoen gesels oor haar bydrae tot die verfraaiing van Jacobsdal. 

Nog ’n karakter wat die dorp se veelsydigheid weerspieël, is ds. Mias Nortier – die persoon wat Jacobsdal vir die Kultuurkaravaan benoem het en wat buiten sy rol as predikant ook ’n gekwalifiseerde sjef is. Die uitsending het ook die werk van die Arise Light-stigting en ATKV AbbAsorg belig. 

Albe Grobbelaar, Renske Jacobs en Gustav Greyling
In die NG kerk Jacobsdal is van links Albe Grobbelaar, Renske Jacobs en Gustav Greyling. FOTO: Verskaf

 “Dit was een van die mooi dinge van die hele reis,” sê Van Emmenes.“Jy begin by ’n gesprek oor water en boerdery, en ’n paar minute later praat jy met iemand wat ’n dorp se geskiedenis bewaar, ’n ander persoon wat probeer om die dorp mooier te maak en organisasies wat na mense omsien. Dit herinner jou dat ’n gemeenskap nie deur een ding aan die gang gehou word nie. Dit is ’n netwerk van mense wat elkeen hul deel doen.”

Vir Virseker was die Kultuurkaravaan juis ’n geleentheid om dié mense se stories verder as hul eie dorpsgrense te neem.

“Wanneer ons praat oor die dinge wat vir mense belangrik is, is dit nie altyd iets wat jy kan koop of vervang nie,” sê Van Emmenes. “Dit kan jou familie se plaas wees, die geskiedenis van die plek waar jy grootgeword het, die mense wat jou gemeenskap ondersteun of eenvoudig die vermoë om ’n bestaan te maak.

“Jacobsdal het gewys hoe nou dié dinge aan mekaar verbind is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article