Feesdirekteur Michael Garbett op die Vryskitter-eerbewysgeleentheid.
Michael Garbett. FOTO: CG Productions

Vrystaat Kunstefees verwelkom nuwe naamborg


BLOEMFONTEIN – Die Vrystaat Kunstefees het vandeesweek aangekondig dat hy ‘n naamborg gekry het.

Die fees sal voortaan as die Law For All Vrystaat Kunstefees bekend staan. Die vennootskap verbind ’n fees wat mense deur die kunste bymekaarbring met ’n organisasie wat hulle help om hul regte te verstaan en uit te oefen.

Vir 25 jaar bring die fees kunstenaars uit Suid-Afrika en die buiteland na Bloemfontein. Teater, musiek, letterkunde en visuele kuns maak deel uit van ’n program waarin gevestigde name en nuwe stemme mekaar ontmoet.

ALSO READ: First Crystal-Donna Roberts Bursary awarded to UFS student

Besoekers beweeg van ’n boekgesprek na ’n vertoning, ontdek die werk van kunstenaars en handwerkers op die kunstemark en neem die gesprekke saam huis toe – alles op een terrein.

Law For All se ondersteuning gee die fees groter sekerheid om vooruit te beplan en kunstenaars se werk na gehore te bring. Dit is ook ’n belegging in die mense wat dié ontmoetings moontlik maak: die skeppers, tegnici en medewerkers wie se werk ’n idee in ’n gedeelde ervaring verander.

“ ’n Fees behoort jou lus vir die lewe te maak,” sê Michael Garbett, direkteur van die fees.

“Jy kan vir ’n bekende naam kom en deur ’n heeltemal nuwe stem verras word. Daardie ontmoetings kan verander hoe ons na mekaar kyk. In ’n provinsie wat dikwels misgekyk word wanneer dit by die kunste kom, kies Law For All om in hierdie moontlikhede te belê. Ons sien dit as ’n daad van vertroue in die Vrystaat en in die werk wat hier gemaak word.”

Die vryheid om jou stem te gebruik, loop deur die vennootskap. Kunstenaars vertel verhale wat die gehoor ontroer, laat lag en sekerhede uitdaag. In die alledaagse lewe gebruik mense hul stem om vir hulself op te staan en besluite oor hul toekoms te neem.

“Ons ondersteun mense se reg om hul lewe te vorm. Dit sluit die vryheid in om jou storie te vertel en jou stem te gebruik,” sê Carel Taljaard, uitvoerende hoofbeampte van Law For All.

“Daarom verbind ons ons naam aan die Vrystaat Kunstefees. Ons glo in die kunstenaars en gemeenskappe wat hierdie ruimte skep, en ons wil deel wees van die toekoms wat hulle hier bou.”

Die Law For All Vrystaat Kunstefees vind van 6 tot 10 Julie op die Universiteit van die Vrystaat se hoofkampus in Bloemfontein plaas. Volg die fees se amptelike kanale en vrystaatkunstefees.co.za vir verdere aankondigings en programnuus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article