Bek-en-klouseer: Vinnige optrede oor bewerings van gelaaide pryse geloof

Willie Aucamp, minister van landbou.
Willie Aucamp, minister van landbou.

Bek-en-klouseer: Vinnige optrede oor bewerings van gelaaide pryse geloof


BLOEMFONTEIN – Terwyl Suid-Afrikaanse boere ‘n stryd voer teen die ergste voorval van bek-en-klouseer wat die land nog gehad het, is daar bewerings dat enstowwe se pryse gelaai word.

Die nuwe minister van landbou Willie Aucamp het Vrydag ‘n vergadering met die Onderstepoort Biologiese Produkteraad (OBP) gehad om bewerings van ernstige oortredings wat verband hou met die pryse van entstowwe, te bespreek.

Volgens Moneyweb het die OBP bek-en-klouseer-entstowwe teen R45 gekoop en dit aan boere teen tussen R70 en R130 verkoop, wat bewerings laat ontstaan het dat die staatsentiteit wins maak uit die enstowwe.

Die DA se woordvoerder oor landbou, Desiree van der Walt, sê die minister se vinnige pro-aktiewe optrede wys dat hy optree in belang van Suid-Afrikaanse boere in ‘n tyd van nood.

Ná die vergadering het die raad as voorsorgmaatreël sy uitvoerende hoof, dr. Jacob Modumo, geskors en hom vyf dae gegee om redes te verskaf waarom sy diens nie opgeskort moet word nie.

Aucamp het dit duidelik gemaak dat die OBP nie onregverdig mag baat vind by die bek-en-klouseer-tragedie wat die land se boerderygemeenskappe raak nie.

Van der Walt sê die finansiële laste wat Suid-Afrikaanse boere reeds ervaar, moet nie verder verhoog word nie. “Die minister se ingryping moet verwelkom word, en die bekommernisse wat geopper is, moet vinnig deur die OBP-raad ondersoek en opgelos word.

“Gegewe die erns van die siekte en die behoefte dat boere entstowwe moet ontvang en gebruik, het die minister ‘n duidelike verantwoordelikheid om Suid-Afrika se landbougemeenskappe gedurende hierdie tydperk te beskerm en te ondersteun.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article