BLOEMFONTEIN – Met nuwe gevalle van bek-en-klouseer wat in 19 distrikte in die Vrystaat aangemeld is, is Vrystaat Landbou bekommerd dat die huidige plan om die siekte te bestry, nie gaan werk nie.
“Daar is geen manier waarop ons die bek-en-klouseer-virus gaan oorwin met ’n risiko-gebaseerde model nie,” sê Friedl von Maltitz, vise-president van Vrystaat Landbou (VL). Volgens hom is hierdie model ontwerp vir lande wat reeds bek-en-klouseer-vry is en slegs geïsoleerde uitbrekings ervaar en nie vir ’n situasie soos Suid-Afrika s’n nie.

Von Maltitz, wat in Februarie deur VL na Argentinië gestuur is om internasionale inentingstrukture te bestudeer, beklemtoon dat Suid-Afrika dringend moet oorskakel na ’n gekoördineerde massa-inentingsbenadering.
“Lande soos Argentinië, Bolivia, Brasilië en Uruguay het suksesvol hul uitbrekings beheer deur gestruktureerde, sone-gebaseerde entingsveldtogte. Dit behels dat alle vee binne ’n bepaalde sone vinnig ingeënt word, met ’n opvolg- of skraagdosis binne twee tot ses weke.”
Hy voeg by dat sistematiese enting – van een kant van ’n sone na die ander – noodsaaklik is om effektiewe kudde-immuniteit teen verdere verspreiding te skep.
Die huidige benadering in Suid-Afrika, waar hoofsaaklik slegs positiewe plase en omliggende gebiede geteiken word, is volgens VL onvoldoende. “Teen die tyd dat staatsveeartse plase bereik, het die virus reeds verder versprei. Daar is eenvoudig nie genoeg mannekrag onder staats- en privaatveeartse en dieregesondheidstegnici om betyds voor die uitbrekingskurwe te bly nie.”
VL is verder van mening dat die huidige toedeling van entstowwe – hoofsaaklik aan melk-, buffel- en varkprodusente, asook voerkrale – dui op ’n lukrake en ongekoördineerde strategie wat te veel gapings vir die virus laat om verder te versprei.
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, beklemtoon verder dat die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) duidelike riglyne stel vir massa-entingsprogramme. “Op hierdie stadium is daar geen sigbare, gestruktureerde nasionale plan in plek nie. Met die beskikbaarheid van meer entstof in die land, is dit nou krities dat ’n omvattende en gekoördineerde strategie geïmplementeer word. Geen ander land met soortgelyke uitbrekings maak gebruik van ’n risiko-gebaseerde model nie.”
VL doen daarom ’n dringende beroep op owerhede om die huidige strategie te herevalueer en ’n doeltreffende, wetenskaplik-gefundeerde nasionale entingsplan te implementeer om die land se veebedryf te beskerm.
Die department van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake het Vrydag 5 Junie in ‘n verkaring gesê daar is vier nuwe geval van die siekte in Warden, een in Bultfontein, twee in Qwaqwa. Daar is reeds 608 gevalle in die Vrystaat aangemeld.
Moliehi Moeng, woordvoerder van die departement sê wel dit lyk of die getal nuwe aanmeldings die laaste paar weke verminder. Hy sê as deel van die nasionale strategie is 707 986 beeste al ingeënt met Biogenesis Bago en Dollvet-inentings.
Moeng sê die deparement het talle aansoeke ontvang en dat nou gefokus op hoërisiko-areas. “Boere word aangemoedig om aansoek te doen sodat die inligting beskikbaar is vir die deparement om beplanning te doen vir die uitrol van die inentingsproses.”
Hy sê die departement neem kennis dat daar boere is wat nie die voorkoms van bek-en-klouseer op hul plase aanmeld nie. “Dit veroorsaak dat die voorkoms van die siekte in die provinsie nie behoorlik weergegee word nie,” sê Moeng.







You must be logged in to post a comment.