KROONSTAD – Volhoubare oplossings vir die toekoms om situasies soortgelyk aan die voortslepende bek-en-klouseerkrisis te vermy, is deurgaans op ‘n inligtingsdag vir die landbousektor beklemtoon.

Dié inligtingsdag deur die Senrick-groep, waartydens die impak van bek-en-klouseer op die landbousektor en ernstige uitdagings daarvan vir produsente uitgelig is, het op Vrydag 1 Mei by die Kroon Boma buite Kroonstad plaasgevind.

Kundige gassprekers het insiggewende perspektiewe gedeel en die omvang van die probleem breedvoerig bespreek, terwyl praktiese oplossings en groter samewerking binne die bedryf beklemtoon is. Rolspelers uit die sektor het die huidige situasie geëvalueer en moontlike strategieë vir die beperking van die siekte bespreek.

Rolspelers uit die landbousektor het Vrydag 1 Mei by die Kroon Boma buite Kroonstad byeengekom tydens ’n inligtingsdag van die Senrick-groep, waar die verreikende impak van die voortslepende bek-en-klouseerkrisis en dringende oplossings om die siekte te bekamp, indringend bespreek is.
Rolspelers uit die landbousektor op Vrydag 1 Mei by die Kroon Boma buite Kroonstad tydens ’n inligtingsdag van die Senrick-groep, waar die verreikende impak van die voortslepende bek-en-klouseerkrisis indringend bespreek is. FOTO’S: Madli Grobbelaar

Die geleentheid is deur Nick Serfontein van die Sernick-groep geopen, waarna verskeie sprekers hul insette gelewer het, onder wie dr. Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus, Francois Wilken van Vrystaat Landbou, dr. Danie Odendaal van die Veearts Netwerk, en dr. Shaun Morris van die ministeriële taakspan oor bek-en-klouseer. 

Volgens Serfontein raak die bek-en-klouseerkrisis toenemend ernstiger, terwyl plase vir lang tydperke onder kwarantyn geplaas word wanneer gevalle aangemeld word, wat produsente huiwerig maak om uitbrekings te rapporteer.

Hy het gewaarsku dat die landbousektor onder geweldige druk verkeer met bek-en-klouseer sowel as uitdagende toestande vir graanboere weens hewige reën wat produksie bemoeilik.

Terselfdertyd is staatsveeartse vir hul volgehoue pogings geloof, terwyl die doel van die sessie was om kernkwessies uit te klaar en oplossings te bespreek.

Nick Serfontein van die Sernick-groep het die inligtingsdag geopen en ook sy kommer uitgespreek oor die huidige toestand van die bek-en-klouseerkrisis en hoe dit boere raak.
Nick Serfontein van die Sernick-groep spreek sy kommer oor die huidige toestand van die bek-en-klouseerkrisis uit en hoe dit boere raak.

Uitdagings beperk boere se potensiaal

Mulder het tydens sy toespraak beklemtoon dat ekonomiese groei in Suid-Afrika stagneer en dat hoë werkloosheid en swak bestuur die sektor verder kniehalter. Hy het aangevoer dat Suid-Afrikaanse boere van die beste ter wêreld is, maar dat beleids- en bestuursuitdagings hul potensiaal beperk.

Wilken het namens boere in die Vrystaat gepraat en die ernstige tekort aan entstof as een van die grootste struikelblokke uitgelig. Hy het gesê dat Onderstepoort Biological Products tans nie oor die kapasiteit beskik om voldoende entstof te vervaardig nie, terwyl regsprosesse oor die verkryging en toediening van entstof ook voortduur.

Volgens hom word veral melkprodusente swaar getref, en is daar ’n dringende behoefte aan voldoende entstof om kuddes doeltreffend te beskerm. Hy het beklemtoon dat samewerking met die regering noodsaaklik is, maar dat boere ook hul verantwoordelikheid moet nakom om hul diere te beskerm, terwyl gesprekke met die departement van landbou voortgesit sal word.

Veediefstal en uitdagende weerstoestande is ook as ernstige probleme uitgelig. Produsente is aangemoedig om saam te staan en mekaar te ondersteun te midde van die toenemende druk op die sektor.  

Morris het bevestig dat die siekte reeds na buurlande versprei het, en het groter aanspreeklikheid en samewerking beklemtoon. Hy het ook verwys na deurlopende navorsing deur prof. Armanda Bastos, wat moontlike oplossings vir die krisis ondersoek, terwyl gesprekke oor wysigings aan bestaande wetgewing voortduur.

Odendaal het op sy beurt aangedui dat daar hoop is dat voldoende entstof binnekort beskikbaar sal wees om die uitbreking te beheer, hoewel die pad vorentoe uitdagend bly.

Die inligtingsdag, wat deur boere van so ver as die Noord-Kaap bygewoon is, is as goed georganiseer beskryf, met kenners soos Prof. Johan Willemse en Prof. Theo Venter wat ook teenwoordig was.

Die boodskap van die dag was duidelik: slegs deur samewerking, daadwerklike optrede en voldoende hulpbronne sal die landbousektor die krisis suksesvol kan oorkom.

LEES OOK: Vertragings in toedien van BKS-entstof kos boere miljoene, sê VL

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article