‘Ek is moeg vir die lewe’, huil ma in hof oor ernstige bewerings teen haar

Die Atlantis-landdroshof. FOTO: Murphy Roberts
Die Atlantis-landdroshof. FOTO: Murphy Roberts

‘Ek is moeg vir die lewe’, huil ma in hof oor ernstige bewerings teen haar


ATLANTIS – ‘n Ma wat daarvan beskuldig word dat sy haar twee minderjarige kinders seksueel misbruik het, het Woensdag 14 Oktober in die Atlantis-landdroshof getuig dat sy alles moontlik gedoen het om haar kinders te beskerm.

Die staat voer egter aan dat die kinders se verklarings en ander getuienis haar weergawe weerspreek.

Die 37-jarige ma van twee, wat teregstaan op ernstige bewerings van seksuele misbruik van haar kinders, het in die Atlantis-landdroshof tydens haar borgaansoek getuig.

Met trane wat oor haar wange rol, het die vrou aan die hof gesê sy is depressief en emosioneel uitgeput. “Ek is moeg vir die lewe,” het sy moedeloos gesê.

Die vrou het volgehou dat sy alles in haar vermoë gedoen het om haar kinders te beskerm en selfs by ’n skuiling aangeklop het om ’n plek vir haar en haar twee kinders te probeer kry, omdat sy uit haar huidige omstandighede wou wegkom.

Sy het die aanklagte teen haar ontken en aangevoer dat sy bloot probeer het om wurms by haar kinders te verwyder.

Volgens haar was daar bottels stroop by haar huis wat sy as deel van haar pogings gebruik het om die probleem te behandel.

Die staat beweer egter dat die vrou ’n borsel gebruik en dit in haar kinders se privaatdele ingedruk het.

Sy het dié bewerings ten sterkste ontken en aan die hof gesê die borsel is slegs gebruik in haar poging om die wurms te verwyder. “Ek is lief vir my kinders en sal hulle nie skade aandoen nie,” het sy gesê.

Die staat het in teenstelling aangevoer dat die getuienis van ’n dokter en maatskaplike werkers die vrou se bewerings sal weerlê.

Die hof is ook meegedeel dat die twee kinders verklarings afgelê het waarin hulle na bewering gesê het dat hul ma seksuele speletjies met hulle gespeel het, wat hulle ongemaklik laat voel het.

Die vrou het dié bewerings ten sterkste ontken en die optrede van die maatskaplike werkers bevraagteken.

Volgens die staat se weergawe beweer die 10-jarige dogter in haar verklaring dat haar ma haar vinger en ’n borsel in haar privaatdele ingedruk het en haar aangesê het om daaraan te ruik en dit te lek.

Die aanklaer het verder aangevoer dat die agtjarige seun se verklaring die bewerings staaf.

Die staat het ook aangevoer dat die vrou haar getuienis aangepas het om haar optrede as ’n poging om wurms te verwyder, te regverdig.

Die vrou het tydens haar getuienis gesê daar is ’n lang geskiedenis van konflik tussen haar en maatskaplike werkers.

Sy het beweer dat hulle haar en haar kinders in die steek gelaat het en gesê sy het by verskeie geleenthede oor hul optrede probeer kla.

Die beskuldigde het ook haar kommer uitgespreek oor onderhoude wat maatskaplike werkers na bewering met haar kinders gevoer het, sonder die teenwoordigeheid van’n volwasse familielid.

Die vrou het verder beweer dat die maatskaplike werkers oor haar lieg en dat sy vermoed hulle probeer haar as die skuldige in die saak uitbeeld.

Beplan om by haar ma te woon

Die hof is meegedeel dat die vrou nie geld het om borgtog te betaal nie en beplan om, indien sy vrygelaat word, by haar ma te gaan woon.

Sy het ook aangevoer dat sy nie kontak met haar kinders sal maak nie.

Die hof het verder gehoor dat die kinders se pa en hul ouma aan vaderskant bereid is om ten gunste van die vrou tydens die borgaansoek te getuig.

Die borgaansoek sal na verwagting vandag, Donderdag 15 Oktober, voortgaan.

LEES OOK: Vermeende reeksmoordenaar vas oor moord van drie Atlantis-vroue

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 13 October 2026
    WeskusNuus E-Edition – 13 October 2026

Gift this article