Rekordgetal skryf in vir musiekstryd, drie Stellenbossers onder finaliste

Aileen Maas
Aileen Maas, koördineer- der van die Nasionale Jeugmusiekkompetisie.

Rekordgetal skryf in vir musiekstryd, drie Stellenbossers onder finaliste


Drie jong musikante van Stellenbosch is onder die 28 finaliste wat in Desember aan die Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) in die Endler-saal sal deelneem.

Die 42ste weergawe van die kompetisie het vanjaar ‘n rekordgetal van 50 inskrywings ontvang. Onder die finaliste is die 19-jariges Damian Philander (klavier), Ané Prins (tjello) en Emma Stiff (viool), almal van Stellenbosch.

Die kompetisie vir klassieke musikante tussen 14 en 19 jaar vind van 1 tot 5 Desember by die US-konservatorium in Stellenbosch plaas. Die 28 deelnemers is van oor Suid-Afrika heen.

LEES OOK: Stellenbosch-matrikulant skitter op klavier in Endler-saal

Nasionale Jeug Musiek Kompetisie
Die direkteur van die NJMK, prof Mario Nell (regs), en Aileen Maas, die NJMK-koördineerder (middel), vier die medalje-oes van die drie algehele wenners van die 2025-NJMK. Hulle is (van links) Hermanus Schmidt (goud), Yu Qing Peng (silwer) en Kyrah Adams (brons).

Groot pryse

“Die oudisiepaneel van gerekende musikante het die standaard so hoog gevind dat hulle aanbeveel het dat 28 opkomende sterre genooi word om aan die week lange geleentheid deel te neem,” sê die NJMK-koördineerder Aileen Maas.

Hulle sal om prysgeld van altesaam R180 000, asook die gesogte wennerstitel en goue, silwer- en bronsmedaljes meeding.

Die NJMK word oor vier rondes in vyf kategorieë vir orkesinstrumente beslis: klavier, strykinstrumente, houtblaasinstrumente, koperblaasinstrumente en ander orkesinstrumente (harp, slagwerk, marimba, xilofoon, ensovoorts). Vanjaar is 14 pianiste, ses tjelliste, ses violiste en twee saksofoonspelers gekies.

Tydens die vyfdaagse kompetisie moet deelnemers ‘n uiteenlopende repertoire van hul eie keuse uitvoer wat verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies insluit. Al die deelnemers sal in die eerste twee rondes speel.

Daarna sal 12 semifinaliste in die derde (halfeind-) ronde meeding om te bepaal wie die top-ses musikante is.

Die top-ses aanspraakmakers sal dan in ‘n galakonsert, begelei deur die Kaapstad Filharmoniese Orkes, op Saterdag 5 Desember om die oorwinning ­meeding. Die kompetisiewenner en die finale rangorde van die NJMK word kumulatief oor die vier rondes bepaal.

Die name van die beoordelaarspaneel en kaartjiepryse vir die galakonsert sal nader aan die kompetisie bekend gemaak word. Toegang tot die eerste drie rondes is gratis.

Die galakonsert van die eindronde sal ook regstreeks op die NYMK-webwerf by www.nymc.co.za uitgesaai word.

LEES OOK: Jong musici gaan in Endler meeding

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article