Om 50 studente in ‘n Volksie te druk was jare gelede ‘n groot uitdaging. Maar laat ‘n mens maar sê: Dis ‘n makliker taak as om die byna 50 musiekproduksies van die Toyota Musiekfees by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees in een asem te probeer noem.
Die gewilde opelugkonserte by die Jan Marais-park bring families en feesmaats onder die sterrehemel bymekaar. Zaan Sonnekus en Tashé met Sossi, Booshle G. met Tatum Tides, Spoegwolf met Van Der Aven en Jeremy Loops met Tessi Nandi bring van Woensdag 7 tot Saterdag 10 Oktober die vibes en die klank.
Die hekke maak om 17:00 oop, so kom vroeg en kuier saam.
LEES OOK: Stellenbosch Woordfees glo ‘dis hoog tyd’ dat jy jouself bietjie tyd gun

Wye verskeidenheid musiek
Jazz-liefhebbers kan weer uitsien na ‘n vol Jazz at the Konserve-program by die buitelug-amfiteater van die Universiteit Stellenbosch Konservatorium. Dit is die tuiste van ‘n reeks musiekkonserte waar bekende jazzmusikante soos Buddy Wells, die Ramon Alexander-trio, Sibabalwe Gobe-Gysman, Melisizwe Plaatjie, Heinrich Frans en die Andrew Ford-trio sal optree.
Net daarna volg die Afterpaartie-program wat deur Schalk Joubert saamgestel word. Hy bring van sy vriende en beste musici in die land bymekaar. Dis die perfekte laatnagkuierplek om ná die dag se vol program te kom litte losmaak en te ontspan.
Die Albert Frost-trio, die Papier Family Band, Nick Turner, die Robin Auld-trio en die World Peace-ensemble is van die sterre op Schalk se sterbelaaide program.
Amanda Strydom vier haar 70ste (ja, kan jy glo!) saam met die Kaapstad Filharmoniese Orkes in ‘n vertoning wat een vir die boeke gaan wees met Sewentig, nog lewendig op Dinsdag 6 Oktober om 19:00.
Anton Goosen dien alle gerugte van oud en koud die nekslag toe met Magtig, kyk wie’s 80. Anton en bring sy vriende soos Coenie de Villiers, Schalk Joubert, Churchil Naude, Akkedis, Lize Swart, Loukmaan Adams en ander na die jolige partytjie op 7 Oktober om 19:00.
Vusi Mahlasela, Jak de Priester, Glaskas, Joshua na die reën, Elvis Blue, Coffee Snobs, Karin Hougaard, Koos van der Merwe, Bianca Flanders en Dean Balie in Prima! en talle ander is op die Toyota Musiekfees-program.
Ekstra vertonings
Kaartjies verkoop so goed dat daar ‘n ekstra vertoning geskeduleer is vir Stille vuur met Coenie de Villiers, Deon Meyer, Mauritz Lotz en Frieda van den Heever op Maandag 4 Oktober om 18:30 en Plektrum met Mauritz Lotz op Saterdag 3 Oktober om 11:00.
Na drie jaar is Jan Blohm op 3 Oktober om 20:00 uiteindelik weer terug by die Daisy Jones-teater, en hierdie keer bring hy die hele band saam vir ‘n volbloed rock show as deel van die Toyota Musiekfees.
Louis Mhlanga, ‘n reus van die Afrika-kitaar, bygestaan deur ‘n vol band, is vir slegs een aand op 7 Okotber by die Daisy Jones-teater om 20:00 deel die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Die Toyota Stellenbosch Woordfees duur van 3 tot 11 Oktober. Besoek woordfees.co.za vir die volledige program.



You must be logged in to post a comment.