Toyota Stellebosch Woordfees: Paarliet wen 11de kortverhaalkompetisie

Keith Oliver Lewis, wenner van vanjaar se Woordfees-kortverhaalkompetisie.

Toyota Stellebosch Woordfees: Paarliet wen 11de kortverhaalkompetisie


STELLENBOSCH – Keith Oliver Lewis is Saterdagaand 3 Oktober as die wenner van die Toyota Stellenbosch Woordfees se 11de jaarlikse kortverhaalbundel-kompetisie aangewys.

Die aankondiging is tydens die bekendstelling van die bundel by die Stellenbosch-stadsaal gemaak.

Lewis ontvang R30 000 vir sy wenverhaal, Nagwaak, danksy borge EasyEquities, die Hiemstra Trust en PEN Afrikaans. Vanjaar is ‘n rekordgetal inskrywings ontvang: 471 teenoor 329 verlede jaar.

In 2022 het Lewis die eerste keer sy hand gewaag aan ‘n kortverhaal wat gekeur is vir die kortverhaalbundel daardie jaar. Hy het nie gewen nie, maar het ‘n belofte aan homself gemaak dat hy weer sal probeer.

“Daai aand toe wen Lynthia Julius. Toe sê ek ekke wil soes sy wies. En kyk nou vir my!” onthou Lewis.

LEES OOK: Digkuns en meesterwerke vermeng in ‘Met Woord en Lied’ by Woordfees

kortverhaalbundel
Die skrywers wat vanjaar se kortverhaalbundel van die Toyota Stellenbosch Woordfees gehaal het.

Pyn sonder pretensie

Nagwaak verweef gevoelvol hoe ‘n gesin probeer sin maak van die dood van ‘n seun in bendegeweld. Dit is geskryf in die taal van Paarl, sonder pretensie of mooi woordjies.

Lewis stroop alles weg tot net die pyn en wanhoop van verlies oorbly. Stories oor bendegeweld is nie nuut nie, maar deur die ouers sentraal te maak, vertel hy dit op ‘n manier wat ‘n mens anders laat dink en voel oor hoe gemeenskappe geraak word.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, beskryf in haar voorwoord kortverhale as ‘n “ou, onderskatte instrument” vir die dringendheid wat die daaglikse polsslag vir ‘n skrywer is.

In kortverhale, skryf sy, “is daar nie die luukse van stadige onthulling nie – die leser word vertrou om te voltooi wat die verhaal nie volledig kon sê nie”.

Gelukkig het Lewis gesê wat hy moes – en dit het op die regte ore geval.

Bundel te koop

Die Toyota Stellenbosch Woordfees-kortverhaalbundel met 25 stories is beskikbaar by die Boekwinkel by Die Khaya of aanlyn by woordfees.co.za. Vorige jare se bundels is ook beskikbaar.

Elke skrywer wat in die bundel opgeneem is, ontvang ook R5 000 met die komplimente van EasyEquities.

Die skrywers wat vanjaar in die bundel opgeneem is: Anita Kritzinger, Anna-Bet Stemmet, Cobus Kruger, Corine Raath, Elme Ravenscroft, Elzan Webster, Emile Joubert, Gaireyah Fredericks, Helena Opperman, Ilse Schoonwinkel Pauw, Janina Theron, Janine Opperman, Johann Smith, Karin Sennett, Keith Oliver Lewis, Ling Sheperd, Lynthia Julius, Marquen Carstens, Michèle Meyer, Morné Malan, Paula Fourie, Rina Bester, Ryno Eksteen, Sandy Schoeman en Werner Rossouw.

LEES OOK: Stellenbosch Woordfees glo ‘dis hoog tyd’ dat jy jouself bietjie tyd gun

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article