Die veelbekroonde teaterproduksie Moffie is as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees op die planke van die Adam Small-ouditorium in Stellenbosch te sien.
Ses vertonings word van Saterdag 3 tot Dinsdag 6 Oktober en van Saterdag 10 tot Sondag 11 Oktober oor twee blokke aangebied.
Ná ‘n vyfster-wêreldpremière in Londen en ‘n hoogs aangeskrewe Suid-Afrikaanse debuut by die Baxter-teater verlede September, keer dié eenmanvertoning vir ‘n beperkte seisoen na Suid-Afrikaanse verhoë terug.
LEES OOK: Op die planke: Krapp se eerlike soeke na waarde van lewe

Bekroonde span
Die verhoogverwerking, gebaseer op André Carl van der Merwe se roman, word deur ‘n uitmuntende Suid-Afrikaanse span in ‘n kragtige en aangrypende verhaal oor liefde, oorlewing en identiteit onder die Apartheidsregering tot lewe gebring.
Greg Karvellas behartig die regie en vervaardiging van die produksie en dit word ten volle deur die Common Humanity Arts Trust gefinansier.
Philip Rademeyer was verantwoordelik vir die verwerking van André Carl van der Merwe se roman.
Die bekroonde akteur David Viviers vertolk die rol van Nicholas van der Swart, ‘n jong dienspligtige wat sy identiteit noodgedwonge moet verberg en wie se aangrypende reis die hart van die verhaal vorm.
Terug in tyd
Moffie speel af in 1979, teen die agtergrond van Apartheid Suid-Afrika.
Die Suid-Afrikaanse regering se verklaarde doel was om Suider-Afrika teen kommunisme te beskerm en sodoende die Afrikanervolk, Christenskap en die sogenaamde vrye wêreld te verdedig.
Om dit te bewerkstellig, was soldate nodig en is die 17-jarige Nicholas vervolgens in die Suid-Afrikaanse Weermag ingelyf.
Hy bevind hom in die donker hart van ‘n regime wat absolute gelykvormigheid, “manlikheid”, rassisme en onverdraagsaamheid vereis.
Nicholas word gekonfronteer met die vrees om as ‘n “moffie” bestempel te word en met die voortdurende angs dat sy identiteit ontbloot sal word. Die toneelstuk ondersoek deur hierdie lens die vernietigende gevolge van giftige manlikheid en trauma.
Talle toekennings
Die verhaal wys daarop dat die emosionele wonde van daardie onstuimige tyd – dekades ná SA se demokrasie – steeds voortleef en nooi gehore om na te dink oor die letsels wat die verlede nagelaat het en oor die invloed daarvan op die hede en die toekoms.
Moffie kom by die Woordfees aan met hoë lof van kritici uit SA sowel as die VK. Ná die Suid-Afrikaanse première by die Baxter Flipside in September 2025, het die produksie vyf benoemings by die 61ste Cape Town Theatre Awards ontvang – beste nuwe Suid-Afrikaanse teks vir Rademeyer; beste regisseur vir Karvellas; beste vertoning in ‘n revue, kabaret of eenmanvertoning vir Viviers; beste klankontwerp, oorspronklike musiek, klankomgewing of uitvoering in lewende lywe vir Charl-Johan Lingenfelder; en beste beligtingsontwerp vir Niall Griffin.
Die stuk is op Saterdag 3 Oktober om 15:00, Sondag 4 Oktober om 19:00, Maandag 5 Oktober om 10:00 en Dinsdag 6 Oktober om 18:00 vir die eerste blok op die planke van die Adam Small-ouditorium. Die tweede blok is Saterdag 10 Oktober om 20:00 en Sondag 11 Oktober om 10:00
Kaartjiepryse beloop van R210 tot R350 (vooraf) en van R240 tot R380 op die dag by die deur.
Bespreek via www.woordfees.co.za of direk deur Quicket.
LEES OOK: Reguit balke toe op gewilde Toyota Musiekfees in Stellenbosch





You must be logged in to post a comment.