Carel Nel vertolk die titelrol in Krapp se laaste band.
Carel Nel vertolk die titelrol in Krapp se laaste band.

Op die planke: Krapp se eerlike soeke na waarde van lewe


Dis laat in die aand, iewers in die toekoms. Krapp is op sy verjaarsdag alleen en sit tussen bokse vol herinneringe en die brose oorblyfsels van ‘n lewe wat verbygegly het.

Wanneer hy na ‘n opname van sy jonger self luister, word hy gekonfronteer met die afstand tussen wie hy was en wie hy geword het.

In Krapp se laaste band, Samuel Beckett se donkerkomiese en diep menslike ondersoek na herinnering, tyd, liefde en verlies, vertolk Carel Nel die titelrol.

Die produksie word vervaardig deur die regisseur, Stefan Benadé, wat ook vir die Afrikaanse vertaling, ontwerp, choreografie, musiek en verhoogbestuur verantwoordelik is. Dit maak in Oktober sy debuut op die Spier Toneel-program van die Toyota Stellenbosch Woordfees en word deur die fees ondersteun.

LEES OOK: Reguit balke toe op gewilde Toyota Musiekfees in Stellenbosch

Carel Nel as Krapp
Carel Nel speel Krapp in Krapp se laaste band by die Toyota Stellenbosch Woordfees 2026.

Die produksie neem Beckett se eenvoudige uitgangspunt – ‘n laataand in die toekoms – ernstig op. Vanuit daardie wêreld word Krapp se verhouding met sy eie verlede en met die man wat hy eens was opnuut ondersoek.

Wat vir een generasie nuut en modern is, word vir ‘n volgende generasie reeds ‘n oorblyfsel: nog ‘n voorwerp waarin ‘n mens probeer om iets van jouself te bewaar. Vir hierdie produksie word die stem van die jonger Krapp nou met Nel opgeneem terwyl hy self naby aan dié karakter se jonger ouderdom is.

Die opname word só deel van ‘n groter tydkapsule: sou Nel die rol oor jare of selfs dekades weer besoek, sal ‘n ouer Carel Nel letterlik na sy eie jonger stem luister. Die akteur, die opname en die produksie sal dan saam verouder.

Dit verdiep een van Beckett se sentrale vrae: wat bly uiteindelik van ‘n lewe oor? Die feite wat ons opteken, die herinneringe wat ons bewaar, die mense vir wie ons lief was – of bloot die stem van iemand wat ons eens was en later skaars herken?

Met humor, ongemak en genadelose eer- likheid beweeg Beckett tussen die absurde en die pynlik bekende. Nel dra die wêreld van Krapp alleen op die verhoog: sy rituele, herinneringe, mislukkings, verliese en oomblikke van onverwagse teerheid.

Krapp se laaste band word van Saterdag 3 tot Maandag 5 Oktober op die planke van Idasvallei Primêre Skool opgevoer. Vertonings begin om 20:00 op Saterdag en Maandag, en 19:00 op Sondag.

  • Besoek Quicket vir kaartjies van R210 tot R260. Kaartjies is ook by die deur van R240 tot R290 beskikbaar.

LEES OOK: FOTO II Toyota Stellenbosch Woordfees se vennootskap versterk

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article