Toyota Stellenbosch Woordfees: Sing kaalvoet met Karin Hougaard

Karin Hougaard
Luke van der Merwe (links) en Leon Ecroignard (regs) tree in Oktober saam met die bekroonde sanger Karin Hougaard as deel van die Toyota Woordfees op.

Toyota Stellenbosch Woordfees: Sing kaalvoet met Karin Hougaard

Karin Hougaard
Luke van der Merwe (links) en Leon Ecroignard (regs) tree in Oktober saam met die bekroonde sanger Karin Hougaard as deel van die Toyota Woordfees op.

Die bekroonde sanger Karin Hougaard keer op Saterdag 11 Oktober terug na ‘n Suid-Afrikaanse verhoog met Kaalvoet – ‘n intense, persoonlike en gestroopte vertoning wat haar op haar mees kenmerkende wys: dramaties, vreesloos, kwesbaar en diepgaande.

Hougaard is een van die land se unieke verhoogkunstenaars en het sedert die vroeë tagtigerjare ‘n loopbaan opgebou waarin sy nog altyd veel meer as net ‘n sanger was. Sy vertel, vertolk en beliggaam elke lied, elke woord en elke stilte.

Ná langer as vier dekades in die bedryf en 19 jaar waarin sy grotendeels in die buiteland woonagtig was, het haar Suid-Afrikaanse optredes al hoe meer gesog geraak. Sy is nou terug in die Overberg.

Gehore by die Toyota Stellenbosch Woordfees kry die kans om haar weer op eie bodem te beleef wanneer Kaalvoet by die Drosdy-teater aangebied word.

LEES OOK: Sydney Maree by 16de Dagbreek-straatmyl as atletiek-legende vereer

Verrassende vertolkings

Die vertoning beweeg tussen temas van verlange, liefde, vervreemding, vrouwees, sensualiteit en oudword, ervarings gevorm oor drie kontinente: Suid-Afrika, Europa en Noord-Amerika.

Die program beweeg tussen Hougaard se eie musiek en verrassende vertolkings van bekende liedere.

Gehore wat haar loopbaan oor dekades heen gevolg het, sal die emosionele wêreld van komposisies soos “Muse”, “Sterrereën”, “Stilbly” en “Daar’s ek” herken, asook die bekende “Heimwee” en haar kombinasie van “Summertime” met “Thula”.

Hougaard het ook ‘n sterk kunssinnige verbintenis en ‘n besonderse vriendskap met die ikoniese Nederlandse kunstenaar Herman van Veen. Sy sal ‘n duet van haar lied “By my” saam met hom op sy komende album opneem en tree ook as gaskunstenaar in sy 80ste-verjaarsdagkonsert op.

Teaters vir alle sintuie

In Kaalvoet bring sy verder hulde aan sy liedjieskryfwerk met “Anders anders” en hul gesamentlike komposisie “Bij mij”.

Vir Kaalvoet word sy op die verhoog bygestaan deur die musikante Leon Ecroignard en Luke van der Merwe, met Michèle Nigrini en Hougaard verantwoordelik vir die regie en artistieke leiding. Jak J. Brits behartig die beligtingsontwerp.

Die resultaat is teater waarin musiek, woorde, lig en stilte saamwerk.

Kaalvoet beloof om ‘n intense, persoonlike, unieke en meesleurende Karin Hougaard-vertoning te wees – sonder onnodige versiering, met Hougaard op haar kwesbaarste én kragtigste.

Bespreek kaartjies deur Quicket.

LEES OOK: Kom skop stof op in Afrikaans by Velddraf met Woorde

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article