Trek jou tekkies aan en kies die hasepad in Afrikaans tydens vanjaar se Velddraf met Woorde.
Op Sondag 11 Oktober vier die Toyota Stellenbosch Woordfees die woord, die fees en die gees met hierdie gewilde pretdraf. By die Velddraf met Woorde is jy meer as net ‘n nommer: deelnemers draf of stap met ‘n unieke Afrikaanse tongtrippelterm uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) as registrasienommer.
Almal is welkom – van “doekvoet” tot “donderweer” en “blitsig” tot “baanbreker”. Of dalk is jy “holderstebolder”, “spoedvraat”, “agteros” of “slampamper”. Dis ‘n viering van die bekkigheid van Afrikaans, waar taal voete kry in ‘n vrolike veldwedloop.
Jy kan stap, draf of strompel. Waar, hoe en hoe ver?
Die vraag moet eerder wees, tot hoe ver is jy in staat? Jy kan laat spaander of bedaar… Deelnemers kan kies om die Vastrap of die Japtrap aan te durf. Die Vastrap is 10 km lank en die Japtrap is 5,9 km.
Velddraf met Woorde vind plaas op die pragtige Dornier-wynlandgoed, net anderkant Jamestown buite Stellenbosch, aan die voet van die Helderberg. Verwag natuurskone uitsigte, vind jou weg deur die plaas se wingerde en geniet die vars lug.
Velddraf met Woorde is vir jou genot en vir die taal, so daar sal geen amptelike tye geneem word nie. Daar is wel podiumpryse vir die topdrie-drawwers in die 5 km- en 10 km-wedlope (mans en vroue). Al maak jy teen ‘n slakkepas klaar, kan jy ook dalk iets wen in die gelukstrekkings en elke deelnemer kry ‘n spekboompie as medalje.
Laat die woorde soos klippies in jou mond rondrol en dink solank wat vir jou die mooiste en lekkerste woord in Afrikaans is. Die WAT gaan by die geleentheid wees as jy belangstel om jou gunstelingwoord te borg. Jy kan selfs die 100 meter-WAT-eeuloop teen enige pas oorweeg om 100 jaar van die WAT te vier.
Die 10 km-Vastrap (R200) begin om 08:00, die 5 km-Japtrap (R150) om 08:15 en die 100 m-WAT-eeuloop (R50) om 09:15. Dag-inskrywings is beskikbaar teen R50 ekstra, maar slegs as daar nog kaartjies beskikbaar is en dit nie aanlyn uitverkoop is nie.
Velddraf met Woorde is beperk tot 500 inskrywings, so doen eerder verspring om betyds jou plek by Quicket te bespreek.
Ontvlug die rompslomp van jou bestaan. Moenie ‘n sofapokkel of inkoejawel wees nie. Kom draf, kom stap, kom vier Afrikaans saam met die Toyota Stellenbosch Woordfees se opwindende Velddraf met Woorde.




