Die liggaam van ‘n onbekende man is Maandagmiddag (24 Augustus) onder ‘n boom langs die Ou Paarlpad gevind.
Volgens die persoon wat op die man se lyk afgekom het, was dit reeds aan die ontbind toe hy dit ontdek het. Die omstander sê die man se ligaam was “vol vlieë” tydens die ontdekking.
Veronica Galant, voorsitter van die gemeenskapspolisieforum (GPF) in Klapmuts, sê een van die lede op haar nood-Whatsappgroep het omstreeks 15:40 ‘n boodskap gestuur om haar van die ontdekking te verwittig.
“Ek het toe die polisie in kennis gestel en ook een van ons nooddienspersoneel gevra om te gaan kyk wat aangaan. Hulle het my toe later meegedeel die man kan dalk al drie dae daar lê. Sy gesig was erg geskend,” sê sy.
Die man se liggaam is volgens haar nog nie geïdentifiseer nie, omdat die skending glo te erg was.
Galant beskryf die oorledene as ‘n bruin man tussen 50 en 60 jaar oud.
Sy sê die man het grys hare en ‘n grys baard gehad. Toe sy liggaam gevind is, het hy ‘n swart langbroek aangehad en ‘n swart T-hemp het op die toneel langs hom gelê.
Hy het volgens Galant ook ‘n ring aan sy een pinkie gehad, en het sokkies aangehad, maar sy sê geen skoene is op die toneel gesien nie.
Galant doen ‘n beroep op families wie se geliefde dalk onlangs vermis geraak het en dalk ooreenstem met die beskrywing om met die naaste polisiekantoor kontak te maak.
Die polisie het Dinsdag 25 Augustus by navraag aan Eikestadnuus gesê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.
Konst. Ndakhe Gwala, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.




