Misdaad NovaNews
Nog twee inbrake op plase is oor die afgelope naweek in Klapmuts en Koelenhof aangemeld.

Wynland-plase onveilig; wees paraat, waarsku Klapmuts-plaaswag


Inwoners van landelike gebiede is altyd op hul hoede, en die onlangse vlaag huisrowe op plase in die Wynlande laat inwoners beslis twee keer oor hul veiligheid dink.

Só sê Erica de Villiers van die Klapmuts-plaaswag. ‘n Paartjie van dié dorp het die jongste slagoffers geword wat onder skurke deurgeloop het wat klaarblyklik die Wynlande teiken.

Op Sondag 6 September omstreeks 02:15 het ‘n verdagte toegang tot ‘n woning op die Damarakloof Protea-pad, Klapmuts, verkry.

Volgens die huiseienaar het hy ‘n man opgemerk. Die verdagte het glo twee skote afgevuur toe hy gewaar is en voor hy gevlug het.

LEES OOK: Landelike veiligheid onder die loep in en om Stellenbosch

Klapmuts-bord foto
‘n Paartjie van Klapmuts is die jongste slagoffers wat onder skurke deurgeloop het, nadat hulle toegang tot hul huis op ‘n plaas in dié dorp verkry het. Foto: Argief

Aanval in Koelenhof

“Geen beserings is aangemeld nie,” sê Thembakazi Mpendukana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder. “Die ondersoek is aan die gang en niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Die Klapmuts-polisie ondersoek ‘n saak van poging tot huisbraak.

In ‘n afsonderlike voorval op Vrydag 4 September is twee mense, onderskeidelik 56 en 60 jaar oud, op ‘n plaas in die Koelenhof-gebied deur drie mans in hul woning oorval.

Dit was omstreeks 21:45 toe die paartjie agterkom drie mans, almal met klapmusse aan, het toegang tot die woning verkry. Hulle was met ‘n panga en mes bewapen, het die paartjie gedreig, kontant geëis en die ligging van die kluis gesoek.

Die man se hande is deur die verdagtes agter sy rug vasgebind, met sy vrou wat glo langs hom moes sit.

Nadat die verdagtes ingelig is dat daar geen kontant of kluis is nie, het hulle met drie skootrekenaars, twee selfone en ‘n windbuks gevlug.

Volgen kapt. Nathalie Martin, ‘n woord- voerder vir die Stellenbosch-polisie, is geen beserings aangemeld nie.

Martin versoek enigiemand met inligting oor die voorval om die Stellenbosch-polisie by 021 809 5015 te kontak.

“In hierdie stadium word die saak steeds ondersoek en die polisie kan nie bevestig of dit verband hou met ander huisrooftogte op plase in die Stellenbosch-gebied nie,” sê Martin.

Syndikate glo betrokke

Huisrooftogte op Stellenbosse plase het sedert April vanjaar ‘n kommerwekkende tendens geword.

Op Vrydag 24 Julie is ‘n egpaar omstreeks 21:00 in hul plaashuis op die wynplaas Neethlingshof op die Polkadraaipad op “brutale wyse” aangeval. In dié voorval het die verdagtes ook klapmusse gedra, het die polisie destyds bevestig.

Soortgelyke gevalle is in onder meer Raithby, Stellenbosch-kloofweg, Bonniemile en Agter-Paarl aangemeld. Sers. Suzan Jantjies, Somerset-Wes-polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie in daardie gebied vermoed dat ‘n sindikaat huise in die Raithby-omgewing teiken

LEES OOK: Police confirm ‘crime syndicate’ is targeting farms in Raithby

Benedicta van Minnen, woordvoerder oor polisietoesig en gemeenskapsveiligheid vir die DA in die Wes-Kaap, sê die toename in voorvalle is “uiters kommerwekkend”.

Luidens ‘n verklaring wat vandeesweek uitgereik is, sê Van Minnen altesaam 133 aanvalle op boere in die provinsie is tot dusver aangeteken.

“Vir mense wat op plase woon en werk, is hul huise dikwels afgeleë eiendomme waar hulp dalk ver weg is. Misdadigers wat hierdie kwesbaarheid uitbuit, moet deur die volle mag van die reg in die gesig gestaar word,” sê Van Minnen. Sy voeg by hierdie statistieke moet ‘n wekroep vir wetstoepassingsowerhede wees.

Sedert April het inwoners op plase van Raithby tot Klapmuts onder gewapende diewe met klapmusse deurgeloop.

Wees voorbereid

De Villiers sê ten spyte van pro-aktiewe optrede deur inwoners blyk dit verdagtes is goed georganiseerd vir die aanvalle.

“Op die R304-pad is daar soveel wegkomkans. Ons, as die Klapmuts-plaaswag, is goed georganiseerd, ons strukture is in plek en tog gebeur die voorvalle steeds. Die groepe bly een tree voor,” sê De Villiers.

Sy verduidelik wat goed in Klapmuts werk, is die kommunikasie tussen boere, die plaaslike polisiekantoor, private sekuriteitsmaatskappye sowel as die Stellenbosch-munisipaliteit se verkeers- en wetstoepassingsdepartemente. Byna daaglikse patrollies werk ook goed as afskrikmiddel vir skelms, maar De Villiers sê verdagtes is baie bewus van hierdie patrollies.

“Hierdie voorvalle gebeur nie wanneer ons besig is met patrollies nie; dit is in die stiller ure wanneer hulle toeslaan.”

Die Klapmuts-plaaswag is agt jaar gelede gestig, ná die dood van Joubert Conradie op sy Klapmuts-plaas in 2017, juis om misdaad in die landelike gebied van die dorp te bekamp.

“Die plaaswag se raad is altyd om veiligheid op te skerp met diefwering, paniekknoppies en ‘n safe room. Ons wil nie paniek saai nie, maar mense moet paraat en voorbereid wees,” maan De Villiers.

LEES OOK: Gesin vasgebind in huis tydens nog ‘n roof in Onder-Papegaaiberg

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article