Huisrooftogte wat tot onlangs aan die buitewyke van Stellenbosch plaasgevind het, het die afgelope naweek nader aan die dorpsgebied beweeg.
Die Stellenbosch-polisie het vandees- week bevestig vier mans het die afgelope Sondag (5 Julie) by ‘n huis in Onder-Papegaaiberg ingebreek.
Die gesin het omstreeks 02:00 wakker geskrik toe dié vier inbrekers die klaer in die bed verras het.
“Al vier het klapmusse en handskoene aangehad en was met messe, ‘n skroewedraaier en ‘n koevoet gewapen,” het Kaptein Nathalie Martin, ‘n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, bevestig.
LEES OOK: Vyf verdagtes vasgetrek ná skietery by Stellenbosch-winkelsentrum
Rekenaars, fone gebuit
Die man en sy vrou is met ‘n mes teen die nek met skoenveters vasgebind. Die paartjie se twee kinders, wat in hul eie kamers was, is ook vasgebind en na die hoofslaapkamer gebring.
Nadat die inbrekers die gesin se leë kluis deurgesoek het, het die groep drie Apple-skootrekenaars, drie iPhones, ‘n Samsung-televisie en geld gebuit.
Die klaer se dogter het haar hande losgekry nadat die rowers gevlug het en alarm gemaak. Hoewel die gesin erg getraumatiseer is, was hulle ná die rooftog ongedeerd.
Die skurke het die huis by ‘n patiodeur binnegekom. Dié deur was toe, maar nie gesluit nie.
‘n Soortgelyke rooftog het op Woensdag 10 Junie in dié woonbuurt plaasgevind toe ‘n man om 02:45 wakker geskrik het met drie inbrekers in sy slaapkamer.
Soortgelyk aan die afgelope Sondag se geval, het een van hulle ‘n mes teen dié klaer se nek gehou en hy is met skoenveters vasgebind. Die verdagtes, op soek na juwele en geld, het die man met die dood gedreig.
Nadat hy verduidelik het dat sy beursie in sy motor is, het hulle aangedring dat hy ‘n kontant-oorbetaling maak, wat hy gedoen het. Die rowers het sy motorsleutels geëis en met die klaer se Volkswagen Polo weggejaag nadat hulle ‘n selfoon, tv-stel, ketel en skoene gegryp het.
Dié klaer is ook ongedeerd gelaat.
‘Verskeie groepe’
Martin kon nie bevestig of die huisrooftogte verband hou nie, maar het inwoners gemaan om op hul hoede te wees vir verdagte persone in hul buurt.
Sy het inwoners ook gemaan om proaktief te wees en sekuriteit in en om hul wonings op te skerp.
Eikestadnuus het vanjaar oor verskeie voorvalle van huisrooftogte in onder meer Raithby, Stellenboschkloofweg, Bonniemile en Agter-Paarl berig.
Na aanleiding van ‘n huisrooftog in Raithby verlede maand het ‘n polisiewoordvoerder van Somerset-Wes, AO Suzan Jantjies, gesê dié polisiekantoor glo dit is ‘n sindikaat wat huise in dié gebied teiken.
Volgens ‘n plaaswaglid met wie Eikestadnuus gesels het, is die vermoede dat verskeie groepe – tot soveel as vyf – met dieselfde modus operandi die huisrooftogte pleeg.
Dié plaaslike buurtwaglid sê hoewel mense bespiegel dat die verdagtes nie Suid-Afrikaners is nie, het sekuriteitskameras van ‘n Stellenbosch-geval mans opgeneem wat met mekaar isiXhosa praat.
Niemand is nog in verband met die plaaslike voorvalle gearresteer nie.
LEES OOK: Police confirm ‘crime syndicate’ is targeting farms in Raithby





