Kaptein Nathalie Martin, Stellenbosch-polisie
Brig. Sandile Sonjani (links), bevelvoerder van die Stellenbosch-polisie, en Vispol-hoof kol. Masiza Ponco (regs) groet kapt. Nathalie Martin amptelik tydens ‘n spesiale seremonie. Foto’s: Yaseen Gaffar

Stellenbosch se kaptein Martin groet vir nuwe uitdaging

Kaptein Nathalie Martin, Stellenbosch-polisie
Brig. Sandile Sonjani (links), bevelvoerder van die Stellenbosch-polisie, en Vispol-hoof kol. Masiza Ponco (regs) groet kapt. Nathalie Martin amptelik tydens ‘n spesiale seremonie. Foto’s: Yaseen Gaffar

As jong meisie was die prentjie van ‘n polisievrou in daardie blou uniform haar dryfkrag wat haar tot polisiëring as loopbaankeuse gedryf het. Vir 35 jaar het sy daardie uniform met ywer en trots gedra en verskeie gemeenskappe met waardigheid gedien.

Kapt. Nathalie Martin (56) het gisteroggend (Woensdag 30 September) vir die uniform vir ‘n pragtige rok geruil en haar laaste skof as lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens begin. Die dag – presies 35 jaar later – was die einde van ‘n loopbaan wat grootliks gedryf is deur ‘n innerlike roeping om ‘n verskil in haar eie gemeenskap te maak.

“Dit was ‘n gevoel wat die afgelope twee jaar in my binneste opgekom het – iets wat my gesê het ek het meer om te bied as net dit wat ek tans doen,” sê Martin oor haar besluit om af te tree. “Ek het vir maande daaroor gebid, die Here vertrou en Hy het my geantwoord. Ek’t geweet my seisoen in die polisiediens is verby; dis tyd vir ‘n nuwe seisoen.”

Dié Cloetesviller het haar loopbaan op 30 September 1991 as studentekonstabel by die Stellenbosch-polisiekantoor begin. Nadat sy haar opleiding by die Bishop Lavis-polisiekollege voltooi het, was sy vir ‘n paar maande lid van die Langa-­polisie, voordat sy vir ses maande by die Wellington-polisiekantoor gewerk het.

Kaptein Nathalie Martin, Stellenbosch-polisie
Stellenbosch-polisielede gee ‘n laaste saluut aan kapt. Nathalie Martin (tweede van links) op haar laaste dag amptelike dag as polisielid. Sy is vergesel deur (van links) brig. Sandile Sonjani, XXX en kol. René Matthee. Foto: Yaseen Gaffar

Martin het in 1993 as hofordonnans by die Stellenbosch-landdroshof gewerk en in 2004 die rol van sosiale-misdaadvoorkomingsoffisier van die Stellenbosch-polisie ingeneem. “Ek moes in die gemeenskap werk en projekte en bewusmaking by skole en selfs kerke doen,” vertel Martin.

“Hier het ek my passie om met gebro­ke vroue en slasgoffers te werk, ontdek. Ek was ook – saam met vrywilligers uit die gemeenskap – verantwoordelik vir die bemagtiging van slagoffers en moes ondersteuning bied.

“Sommige dae was dit nie net berading nie, maar ‘n slagoffer of klaer wat net ‘n oor nodig gehad het. Die Here het my Jesaja 61 vers 1 gegee as ‘n bevestiging en ek het my werk met soveel liefde en passie verrig. Ek het elke dag geniet; dit het my soveel vreugde gegee om ‘n verskil te maak en die pad tot genesing saam met slagoffers te stap.”

Tog bieg sy dit was nie altyd maanskyn en rose nie, maar haar geloof en ondersteuning van haar familie het haar deur die moeilike tye gedra.

In 2013 het sy die nuwe uitdaging as woordvoerder vir die Stellenbosch-polisie aanvaar – ‘n rol waarin sy tot haar aftrede volstaan het. “Dít het sy eie uitda­gings gehad, maar daardie uitdagings het ek ook deurstaan,” sê Martin.

“Mense besef nie dat sosiale media baie skade aan ‘n ondersoek kan doen nie. Alle feite kan nie altyd in die media bekendgemaak word nie, want dit kan die saak belemmer. Baie mense voel die polisie steek feite weg en maak dan hul eie afleidings, wat hul op sosiale ­media sonder bevestigting van die polisie deel.”

Dinge het sedert haar eerste dag in die polisiediens aansienlik verander, vertel Martin, want voorheen was polisiëring en inhegtenisnemings die belangrikste. “Deesdae is die bou van verhoudings met rolspelers en die gemeenskap asook partnership policing belangrik.”

Sy het egter vroeg in haar loopbaan reeds besef respek, dissipline en integri­teit moet haar steunpillare wees, en dit het haar gehelp om die verandering in polisiëring aan te gryp.

In moeilike tye was die Skepper haar anker en skuilplek, en die ­ondersteuning van haar eggenoot, Roland, hul drie kinders en ook ‘n kleindogter het haar verder onderskraag. “Hulle het my baie ondersteun, geluister wanneer ek moes afpak en verstaan wanneer die diensfoon in die middel van die nag gelui en hulle ook wakkergemaak het.”

Sy gaan veral haar “bidmaatjies” by die Stellenbosch-polisiekantoor mis, sowel as die spanbousessies en grappies in die verbygaan van ‘n besige dag. Maar vir eers gaan Martin dit geniet om die rigiede roetine van die polisie agter te laat en haar eie dag te beplan, die werk waarna die Here haar geroep het, uit te voer en die rus en vrede ten volle geniet.

Kaptein Nathalie Martin, Stellenbosch-polisie
Kapt. Nathalie Martin groet brig. Sandile Sonjani vir oulaas.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article