sniffer dog; K9 Unit; honde-eenheid; hond
Die Stellenbosch-munisipaleit se honde-eenheid saal sy tande in. Foto: Altino Dantas/Unsplash

K9-eenheid slaan summier sy tande in

sniffer dog; K9 Unit; honde-eenheid; hond
Die Stellenbosch-munisipaleit se honde-eenheid saal sy tande in. Foto: Altino Dantas/Unsplash

Die Stellenbosch-munisipaliteit se honde-eenheid is nog nie eens amptelik van stapel gestuur nie, maar pronk reeds met hul eerste sukses.

Die honde-eenheid, oftewel K9-eenheid, soos dit algemeen bekend is, het verlede week die eerste keer aan optredes in die gebied deelgeneem. Die afgelope Saterdag (5 September) het K9 Juno en sy hanteerder, Anwar Jansen, ‘n motor deurgesoek. Luidens die verklaring van die Stellenbosch-munisipaliteit het dié voertuig ‘n verbindtenis met bende-bedrywighede en die vermoede was vuurwapens en dwelms word heel moontlik in die motor vervoer.

Die munisipale Taktiese Reaksie-eenheid en die K9-eenheid het die voertuig op die R44 naby Klapmuts voorgekeer en deursoek. Ten spyte daarvan dat die voertuig voorheen deur wetstoepassers deurgesoek is, was dit Saterdag die eerste keer dat dwelms gevind is.

Stellenbosch K9 unit
Anwar Jansen en K9 Juno van die Stellenbosch-munisipaliteit se nuwe K9-eenheid het verlede week begin werk en het reeds sukses behaal met ‘n dwelm vonds. Foto:Yaël Malgas

Tydens sy ondersoek van die voorpaneel het Juno onder meer op tik en Mandrax afgekom. Die Klapmuts-polisie het die verdagte in hegtenis geneem en sal die nodige ondersoek doen.

Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die plaaslike munisipaliteit, het verduidelik verlede week was die eerste keer dat die K9-eenheid opleiding en inwyding in die veld gedoen het.

Vier honde en hul handelaars is in die eenheid, wat vroeër vanjaar in die gebied gestig is. Ná hul opleiding kan die honde onder meer dwelms uitsnuffel, asook tydens hoërisiko-wetstoepassingsoptredes en in gevalle van onwettige besetting help.

LEES OOK: Honde-eenheid gouer in Eikestad as aanvanklik verwag

Soortgelyke eenhede is reeds in die Kaapse metro en die Mosselbaai-, Overstrand- en Swartland-munisipaliteite gestig. Die inisiatief word deur die Wes-Kaapse departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid in samewerking met plaaslike munisipaliteite bedryf.

Die Wes-Kaapse LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het die K9-eenheid vir hul goeie werk geloof. Sy het gesê dié sukses in Stellenbosch is ‘n toonbeeld van hoe samewerking polisiëring en wetstoepassing deur die hele provinsie versterk. “Elke onwettige vuurwapen waarop beslag gelê word en elke hoeveelheid dwelms wat uit ons strate verwyder word, is ‘n stap in die rigting van veiliger gemeenskappe en ‘n Wes-Kaap waar mense snags rustig kan slaap en werk toe kan stap sonder om oor hul skouers te loer,” sê Marais.

Die reaksie van Stellenbossers was oorweldigend positief met talle wat meen die K9-eenheid sal gewis ‘n aanwins vir die gebied wees.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article