Dit was byna toemaaktyd by Newinbosch se Pick n Pay toe ‘n groep mans Sondag (5 Julie) na bewering op die plaaslike kleinhandelaar toegesak het om die winkel te beroof.
Die planne van die voornemende rowers is egter deur die plaaslike polisie gestuit en vyf verdagtes is intussen in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Die Stellenbosch-polisie het Maandag (6 Julie) bevestig klagtes van poging tot sakeroof, poging tot moord en ‘n aanval op die polisiebeanpte word ondersoek.
‘n Werknemer van die handelaar was glo in die winkelbestuurder se kantoor toe hulle omstreeks 19:45 van verdagte mense in die winkel verwittig is. Toe die werker die kantoor verlaat om ondersoek in te stel, is hy deur ‘n onbekende man gegryp, wat hom na die winkel se kontantkantoor gedwing het.
Die verdagte het glo ‘n swartsak by hom gehad en die werknemer het probeer om die aandag van die vloerbestuurder te kry.
Terselfdertyd het ‘n polisiebeampte die winkel binnegekom, wat die verdagte op die vlug laat slaan het.
Personeel het die polisiebeampte van die voorval verwittig en nadat die beampte die verdagte agternagesit het, het ‘n skietery tussen hom en die polisieman uitgebreek.
Kapt. Nathalie Martin, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-polisie, het by navraag gesê verskeie verdagtes het in ‘n wit Ford-motor en ‘n silwer VW Polo-sedan gevlug.
‘n Polisiebeampte is deur een van die verdagtes met ‘n motor getref en twee polisievoertuie is ook beskadig toe die verdagtes die hasepad gekies het.
Vier verdagtes, wat steeds binne die winkel was, is egter vasgetrek en onmiddellik in hegtenis geneem.
Martin sê ‘n vyfde verdagte is aangekeer nadat die polisie inligting opgevolg het van ‘n pasiënt in ‘n Kaapse hospitaal nadat dié man vir ‘n vuurwapenwond behandel is. Dié verdagte is in hegtenis geneem en is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.
Al vyf verdagtes, wat tussen 27 en 45 jaar oud is, sal in die Stellenbosch-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is.





