Misdaad NovaNews
Die Stellenbosch-polisie ondersoek ‘n klagte van huisroof en twee van poging tot moord ná ‘n voorval op die plaas Neethlingshof.

Landelike veiligheid onder die loep in en om Stellenbosch

Misdaad NovaNews
Die Stellenbosch-polisie ondersoek ‘n klagte van huisroof en twee van poging tot moord ná ‘n voorval op die plaas Neethlingshof.

Die versterking van plaaslike strukture om misdaad in landelike gebiede hok te slaan, is die fokus van die Stellenbosch-gemeenskaps­polisiëringsforum (GPF) nadat nóg ‘n inbraak en aanval op ‘n plaas langs die Polkadraaipad skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het.

Die gebied gaan die afgelope paar maande onder inbrake en aanvalle gebuk, met ‘n paartjie wat in die mees onlangse voorval verlede Vrydagaand (24 Julie) op die plaas Neethlingshof met ernstige beserings gelaat is.

Volgens André Pelser, die voorsitter van die Stellenbosch-GPF, is landelike veiligheid ‘n topprioriteit van die organi­sasie, wat gedurig met Agri Wes-Kaap en Agri-SA skakel.

“Ons werk met die plaaslike boeregemeenskappe om die regte veiligheids­meganismes in te stel om misdade te voorkom,” het Pelser verduidelik.

“Die vlaag misdade wat die afgelope tyd op plase afspeel, is ­kommerwekkend, en daarom geniet dit topprioriteit van die GPF en die polisie op plaaslike en distriksvlak. Dit is belangrik dat ons die regte strukture, soos die Polka­draai-plaaswag, kry om die risiko’s in landelike gebiede te verminder deur die gemeenskap se hande te versterk met, onder andere, tegnologie om misdaad te bekamp.”

LEES OOK: Attack on Stellenbosch couple shines spotlight on attackers’ wave of terror

Neethlingshof plaas
‘n Paartjie is verlede Vrydagaand (24 Julie) by hul huis op die plaas Neethlingshof deur ‘n groep mans aangeval en beroof. Foto: Neethlingshof/Facebook

Ernstige beserings

Kapt. Nathalie Martin, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-polisie, het bevestig ‘n klagte van huisroof en twee van poging tot moord word ondersoek. Niemand is al in hegtenis geneem nie.

“Die klaer en sy vrou het buite hul woning gebraai toe drie onbekende mans met balaklawas en handskoene, gewapen met ‘n koevoet, op hulle toegesak het,” sê Martin.

“Die rowers het die kluissleutels by die slagoffers geëis en die paartjie met die koevoet aangerand.”

Die rowers het drie gewere en ‘n handwapen in die kluis gekry. Hulle het ook die vrou se ringe van haar vingers gestroop en in ‘n wit Toyota Corolla gevlug.

“Die Stellenbosch-polisie is deur bure van die gesin gekontak,” sê Martin. “Beide slagoffers het ernstige beserings opgedoen en is hospitaal toe geneem.”

Volgens Martin was dit die eerste voorval op die spesifieke plaas, maar nie die eerste in die gebied nie.

Sy het nie Eikestadnuus se vraag oor die getal soortgelyke voorvalle in die gebied beantwoord nie en sê die polisie kan nie bevestig of die saak met enige van die vorige voorvalle verbind kan word nie.

Eikestadnuus het die laaste twee maande oor verskeie soortgelyke voorvalle op plase langs die Polkadraaipad en in Stellenbosch, Bonniemile, Raithby, Faure en die Paarl berig. Soortgelyke voorvalle is ook in die Onder-Papegaaiberg-woonbuurt aangemeld.

LEES OOK: Gesin vasgebind in huis tydens nog ‘n roof in Onder-Papegaaiberg

‘Bedreiging vir voedselsekuriteit’

In die meeste van dié voorvalle het ‘n groep mans met balaklawas en handskoene aan, op die slagoffers toegesak, hulle vasgebind en met waardevolle eiendom soos selfone, televisieskerms, skootrekenaars, juwele en geld gevlug.

Die slagoffers is in die meeste van die gevalle ongedeerd gelaat.

Eikestadnuus het na die voorsitter van die Polkadraai-plaaswag uitgereik, maar kon nie teen druktyd nog inligting oor die voorvalle kry nie.

Anroux Marais, die LUR vir polisieoorsig en gemeenskapsveiligheid, het vroeër vandeesweek die jongste aanval ten sterkste veroordeel en ‘n beroep op die polisie gedoen om al sy hulpbronne in te span om die aanvallers vas te trek.

Sy sê die aanvalle op boere en plaaswerkers bedreig voedselsekuriteit en diegene wat die  ekonomie  en  gemeenskappe  onderhou.­

“Ons landbousektor is die hoeksteen van die Wes-Kaapse ekonomie. Diegene wat ons boerderygemeenskappe teiken, bedreig nie net lewens nie, maar ook die veiligheid en veerkragtigheid van ons landelike ekonomie,” sê Marais.

Martin het op navraag bevestig die polisie in Stellenbosch werk nou saam met die provinsiale ondersoekspan vir ernstige misdaad sowel  as  wetstoepassing en private sekuriteit, wat patrollies op die plase uitvoer.

Die Stellenbosch-munisipalteit het ‘n hernude beroep op verbeterde vennoot­skappe in die bekamping van hierdie misdade gedoen. Die munisipaliteit bied steeds sy volle steun aan die polisie en alle betrokke wetstoepassingsagentskappe. Ons doen alles moontlik om plaaslike veiligheid en sekuriteit te versterk.”

Mense met inligting kan die Stellenbosch-polisie by 021 809 5015 of 082 522 1912 skakel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article