Die 2026- Toyota Stellenbosch Woordfees-program met die tema Dis hoog tyd! is Donderdag 11 Junie tydens ‘n voorskougeleentheid by die Asara-wynlandgoed bekend gestel.
“Tyd is ‘n skaars kommoditeit,” sê Saartjie Botha, die direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, oor die keuse van die feestema.
“Daarom is dit hoog tyd om in die kunste te belê deur jouself die tyd te gun om nuwe herinneringe saam met vriende en familie, selfs vreemdelinge, te maak terwyl jy jou aan die wonderwêreld van die kunste oopstel – ‘n wêreld waar oomblikke momentum bou, begin vloei en uiteindelik energie oor jou laat spoel, wat tyd ophef.”
LEES OOK: Kom wees ‘deel’ van die Woordfees

Propvol program
Die Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 3 tot 11 Oktober plaas. Met meer as 444 items op die grootste kunstefeesprogram in die land, is die oorvloed van produksies ‘n waardevolle noodsaaklikheid in ‘n kunstelandskap wat onder groot druk verkeer.
Die fees bied vanjaar ‘n uitgebreide en opwindende program oor verskeie kunstevelde. Die EasyEquities-skrywersfees, saamgestel deur die digter Bibi Slippers, behels meer as 50 aanbiedings oor onderwerpe van rugby tot die Karoo, met vyf boekklubs, ‘n eerste fiksiefees en ‘n reeks “Skrywers oor skrywers”-onderhoude.
Die feesdigter Tom Dreyer, wat onlangs met die Hertzogprys bekroon is, maak ook digkuns vir alle feesgangers toeganklik.
Die klassieke-musiek-program bevat meer as 40 produksies, insluitend die wêreldpremière van Hendrik Hofmeyr se eerste klavierkwartet, asook die gewilde Klavier-extravaganza III. Die Toyota Musiekfees bied ook weer opelugkonserte, jazz en verjaardagvieringe vir Amanda Strydom (70) en Anton Goosen (80).
Die Spier-toneel-program bied 51 teaterstukke, van debuutwerke tot bekende hervertonings, komedie en kabaret. Die filmfees bied 17 speelflieks en nege kortflieks aan, met baie gratis vertonings. Die leefstyl-program sluit 13 kookboek-demonstrasies met bekende sjefs in.
Die diskoersprogram behandel aktuele kwessies soos politiek, gesondheid en finansies, terwyl die WOW-fees skoolgemeenskappe deur taal- en kultuurprojekte bemagtig.
Verken só die fees
Die meeste aanbiedings is bekostigbaar, met baie gratis geleenthede.
Daar is hulp om deur die groot programlys te werk – die volle feesprogram is aanlyn beskikbaar om af te laai, maar die gratis gedrukte feesgids is en bly ‘n waardevolle handleiding om jou ideale feeslys saam te stel.
Vanjaar is Aramex weer die fees se voete en hande om dit by jou uit te kry. Registreer by woordfees.co.za en dit word by jou deur afgelewer.
Kaartjieverkope open Donderdag 18 Junie vir die publiek en is reeds oop vir lede van die Toyota Stellenbosch Woordfees-lojaliteitsprogram.
“Met 15 weke om te beplan is dit nou die tyd om ‘n feesgids nader te trek en aan ‘n unieke feeservaring te begin beplan. Daar is iets vir almal, met uitstaande werk van ons voorste kunstenaars,” sê Botha.
Kaartjies is by Quicket te koop. Hou die fees se platforms dop vir nuus.





You must be logged in to post a comment.