Luna Paige
Luna Paige stel in September haar nuwe album, “Die Reisigers”, bekend. Foto: Jessica Botha

Luna Paige word ‘n reisiger met vrystelling van nuwe album

Luna Paige
Luna Paige stel in September haar nuwe album, “Die Reisigers”, bekend. Foto: Jessica Botha

Die Stellenbosse sanger-liedjieskrywer Luna Paige keer volgende maand terug met Die Reisigers – ‘n roerende nuwe album wat geïnspireer is deur haar ervaring van die Spaanse Camino.

Die bekendstelling gaan gepaard met ‘n landswye toer wat gehore uitnooi na ‘n onvergeetlike aand met musiek, stories en beeldende kuns. En natuurlik is Stellenbosch op die toerkalender, met ‘n vertoning op Vrydag 11 September by die Drostdy-teater.

Die Reisigers word op Vrydag 4 September amptelik bekendgestel.

LEES OOK: Luna Paige speaks a love language

Luna Paige
Luna Paige stel haar nuwe album, Die Reisigers, in September bekend. As deel van die bekendstelling toer sy deur die land, met ‘n vertoning op 11 September by die Drostdy-­teater in Stellenbosch. Foto: Ansurette Pretorius

Talle temas

Dit is meer as bloot ‘n nuwe album. Die Reisigers is ‘n meesleurende artistieke ervaring wat gehore uitdaag om stil te staan by die reise wat ons vorm, die plekke wat ons verander en die wordings­proses wat ons as mense daarmee saam ervaar.

Die verhoogproduksie het reeds gehore oor die land heen aangegryp en is by die Aard­klop-nasionale kunstefees (2025) as die beste musiekproduksie benoem. Dit is ook by die Toyota Stellenbosch Woordfees (2025), KKNK (2026), Suidoosterfees (2026) en Kalfiefees (2026) aangebied.

Die landswye toer gaan die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng en KwaZulu-­Natal besoek en bied gehore oral die geleentheid om Die Reisigers in sy mees volledige vorm te beleef.

Die album, wat deur Paige se reise deur Suid-Afrika en Suid-Europa – veral haar pelgrimstog op die Camino – inspireer is, ondersoek temas soos beweging, gebor­genheid, verlies, innerlike stilte, selfliefde en aanvaarding.

Hoewel die produksie diep in haar persoonlike ervarings gewortel is, spreek dit tot iets wat almal deel – die voortdurende soeke na betekenis, verbondenheid en tuiskoms.

Musiek én kuns

Vir die eerste keer in haar loopbaan verweef Paige elektroniese komposisies in haar ateljee-opnames én verhoogvertonings, wat nuwe klanklandskappe tot haar reeds unieke musikale aanslag toevoeg.

Tydens die toer word sy op die verhoog vergesel deur die bekroonde musikante Mauritz Lotz en André Scheepers, wie se filmiese kitaar-, klavier- en elektroniese toevoegings die produksie met besondere atmosfeer en emosionele diepte verryk.

Die bekendstelling van Die Reisigers strek veel verder as musiek alleen en sluit ‘n eksklusiewe samewerking met die bekroonde beeldende kunstenaar Theo Paul Vorster in.

Sy oorspronklike kunswerke vorm ‘n integrale deel van Paige se pragtig saamgestelde albumboek en is ook op ‘n reeks beperkte handelsware, waaronder T-hemde en versamelstukke, aangebring.

Versamelaars sal boonop die seldsame geleentheid hê om beperkte uitgawes (een uit 10) van Theo se linosnee-afdrukke te koop. Hierdie werke sal reeds voor die toer, sowel as by elke vertoning, beskikbaar wees.

Saam skep die musiek en beeldende kuns ‘n veelvlakkige artistieke ervaring wat kreatiwiteit in al sy vorme vier.

Die vertoning by die Drostdy-teater ­begin om 19:00.  Kaartjies kos tussen R100 en R250; bespreek jou plek aanlyn via Webtickets.

LEES OOK: Luna stel twee nuwe enkelsnitte, albums by Drostdy bekend

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article