Om in ‘n enkelproduksie by die Toyota Stellenbosch Woordfees betrokke te wees is sommige kunstenaars se droom, maar die fluit-speler Malané Hofmeyr-Burger spog vanjaar met drie produksies by die plaaslike fees.
Hofmeyr-Burger se talente is te sien in Claude Bolling se Suite vir fluit en jazz-trio, die Hofmeyrs in Konsert: Van liefde en die nag, asook Cantabile met die pianis Elna van der Merwe, te sien.
“Die dobbelsteentjies het net reg geval en al drie produksies is deur die aansoekproses en uiteindelik goedgekeur,” meen Hofmeyr-Burger oor haar optredes.
Musiek in haar bloed
Hofmeyr-Burger kom uit ‘n musikale gesin en haar 91-jarige pa hou steeds sy vingers fiks deur daagliks nog klavier te speel. Sy verduidelik om in drie produksies te wees, is vir haar besonders, veral namate werk vir klassieke musikante al hoe skaarser word.
“Dit word al hoe moeiliker. Hier waar ek is in Johannesburg, in Pretoria is daar nie meer ‘n voltydse orkes nie. Die werk het al hoe minder geraak en indien jy dalk ‘n stoel in ‘n orkes kry, dan is dit slegs op ‘n kontrakbasis,” sê Hofmeyr-Burger.
Daarom het Hofmeyr-Burger haar vaardighede en werk oor die afgelope jare uitgebrei en benewens haar werk as musiekonderwyser het sy ook Logoterapie, ‘n vorm van eksistensiële terapie wat deur die Oostenrykse neuroloog en psigiater Viktor Frankl ontwikkel is, deur die Universiteit van Suid-Afrika gestudeer.
Tog bly musiek haar groot passie. “Musikant wees is 20% talent en 80% harde werk. Niks kom vanself nie en daar is geen kortpad nie. Dit beteken daagliks oefen, jou doel voor oë hou en dissipline.”
En met drie uiteenlopende produksies waaraan sy deel het, het Hofmeyr-Burger seker gemaak sy sit die ure in om al drie vertonings onder die knie te kry.
Van die land se bestes
“Die Claude Bolling-produksie bevat klassieke werk vir die fluit, maar dan is daar die jazz met die klavier (Charl du Plessis), tromme (Peter Auret) en bas (Werner Spies). Dit bied baie verskillende tempo’s en ek geniet dit wanneer die ander drie inkom – dit lig sommer my hart.”
Die Hofmeyr-konsert is ernstiger klassieke fluitmusiek. Dié produksie is geïnspireer deur die vele fasette van die liefde en die nag en volgens Hofmeyr-Burger “iets heeltemal anders” as haar ander optredes.
In Cantabile bied sy en William Berger (baritone), Magdalene Minnaar (sopraan), Schalk Joubert (baskitaar) en Van der Merwe (klavier) gehore die geleentheid om na van hul gunsteling-filmmusiek en ligte klassieke musiek te luister.
“Hierdie program is ‘n voorreg. Ek sien uit om musiek te maak in die oomblik, want dit is wanneer ons saam iets laat leef en elke keer wat ons speel is daar iets nuuts. Al die musikante met wie ek optree is van die beste in die land. Daar is soveel vertroue in mekaar en dit beteken jy kan ontspan en met jou hart en siel speel,” meen Hofmeyr-Burger.
- Vir meer oor Hofmeyr-Burger se vertonings besoek www.woordfees.co.za.
LEES OOK: Toyota Stellenbosch Woordfees: Kom lag saam met Ouma by die Endler





