Die meesleurende drama Die kandidaat het vanjaar die beoordelaars én die gehoor geheel en al betower.
Die Hoërskool Stellenbosch het geskiedenis gemaak deur die eerste plek in te neem en as die algehele beste produksie by die gesogte ATKV-Tienertoneelkompetisie bekroon te word.
Die tweede plek het aan die Hoërskool Parel Vallei gegaan, met die Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp in die derde plek.
LEES OOK: Hoërskool Stellenbosch-leerder in internasionale ekspo

Ander pryse
Die plaaslike skool se talent het op alle vlakke geskitter, met beide die hoofrol-akteurs wat die hoogste toekennings verower het. Emelyn Snyman, ‘n gr.9-leerder, is as beste aktrise in ‘n hoofrol aangewys en die beste akteur in ‘n hoofrol was Johan Swanepoel (gr.11).
Benewens die groot oorwinnings het Die kandidaat ‘n indrukwekkende rits benoemings ontvang. Dr. André Gerber en dr. Andrea Staude is as die beste regisseurs aangewys.
Die produksie het ook die toekenning vir die beste ensemble gewen.
Olivia van der Westhuizen (gr.11) is ook as die beste aktrise in ‘n onder- steunende rol aangewys en die akteur Benyamin Amoraal (gr.9) het die toe- kenning vir die beste kameeverskyning ontvang.
In die tegniese afdeling het die skool ook geskitter, met die toekenning vir die beste hantering van tegniese aspekte.
Weer op die planke
Onder die bekwame leiding van die regisseursduo Gerber en Staude het Die kandidaat die gehoor van die eerste oomblik af op die rand van hul stoele gehou.
Die beoordelaars het veral die produksie se afgeronde tegniese afwerking, die hoë vlak van toneelspel en die naatlose saamspeel van die hele ensemble geprys.
Hierdie geskiedkundige prestasie is ‘n fantastiese beloning vir die maande se harde werk, laataand-repetisies en onblusbare passie wat die hele span ingesit het.
“Baie geluk aan die Hoërskool Stellenbosch se toneelspan, die regisseurs, Emelyn, Johan en elke lid van die span. Julle het die skool en die gemeenskap se naam hoog gehou!” sê dié skool.
- Om Die kandidaat en die ander tienertoneeldrama’s op die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien, besoek Quicket vir kaartjies. Die vertonings is van Vrydag 9 tot Sondag 11 Oktober by die Open Window Campus op die planke.
LEES OOK: Hoërskool Stellenbosch-leerder oes drie goues by swemgala in Oos-Londen



You must be logged in to post a comment.