Van die oudedrom van vyf tot 15 jaar blyk dit daar was nie ‘n tyd wat Seruby van Tromp nie in die swembad was nie.
Dié gr. 9-leerder van die Hoërskool Stellenbosch het vroeër vandeesmaand in Oos-Londen aan die Vlak 3-streekkampioenskap deelgeneem en met drie goue medaljes teruggekeer.
Seruby sê skertsend met ‘n swemafrigter as ma het sy nie juis ‘n keuse gehad as om te swem nie. “Sy het my gedwing om te swem,” skerts Seruby oor haar ma, Sylvia. “Ek geniet dit baie. Wanneer ek in die swembad is, is dit asof my kop stil raak.”
LEES OOK: Blinde swemmer oorkom struikelblokke om doktersgraad te vang

Sport-uitblinker
Hoewel die tiener ook lid van haar skool se o.15-netbalspan is, bly swem haar gunstelingsport.
Die Van Tromps het verlede jaar na die Eikestad verhuis en dit was ‘n aktiewe leefstyl wat hulle hierheen gelok het. Nou swem, draf en ry hulle bergfiets saam.
Haar pa, Gustav, sê hy is uiters trots op sy jongste se prestasies by die inter-provinsiale gala, waar swemmers van die Wes- en Oos-Kaap kragte gemeet het.
Danksy haar kwalifiserende tye wat sy by die Boland- en Wynlande-galas behaal het, het Seruby deurgedring na die A-swemkampioenskap waar sy verlede Desember in Malmesbury ook uitgeblink het. Vandeesmaand, van Donderdag 9 tot Sondag 12 April, was sy een van sowat 300 swemmers wat daagliks items in die Oos-Kaap geswem het.
Seruby het vir sewe items ingeskryf en onder meer aan die 50 m-, 100 m-, 200 m- en 400 m-vryslag deelgeneem.
“Ek was bietjie senuweeagtig vir die gala, maar dit was ook baie pret. Ek het ‘n nuwe en goeie vriendin gemaak terwyl ons daar was,” vertel sy.
Olimpiese-droom
Seruby het haar drie goue medaljes in die 50 m-, 200 m- en 400 m-vryslagitems verower. Sy het ook twee vierde plekke behaal en vir die res van die items het sy onder die top-10 geëindig.
As lid van die Lane Leader-swemklub swem Seruby ses dae per week vir meer as ‘n uur, wat sowat 4 km per sessie is.
Net soos Seruby het Sylvia haar liefde vir swem van háár ma geërf. Kort ná hul skuif is Sylvia as die swemafrigter van die Hoërskool Stellenbosch aangestel.
Hoewel sy daagliks ‘n vol program het, sê Seruby dit is nie te moeilik om by te hou met haar skoolwerk nie, omdat haar vriende help wanneer sy skool weens swem gemis het. En wanneer sy versterking nodig het, is dit Psalm 121, verse 1 en 2, wat haar motiveer en gerusstel.
Haar rolmodel is die Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer Tatjana Smith en sy hoop om ook eendag die land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.






You must be logged in to post a comment.