Kruis op Polkadraaipad (M12) vir wyle Calvin Jansen (12).
‘n Kruis is opgerig vir 12-jarige Calvin Jansen.

‘Gee vir ons straatligte,’ pleit Vlottenburg-gemeenskap


Inwoners van Vlottenburg en die omliggende gebied sê hulle het genoeg gehad van die gesloer om straatligte op die Polkadraaipad (M12) op te rig.

Die pad is ‘n hoofroete na en van Stellenbosch, maar die grootste gedeelte van dié pad het geen straatligte nie.

Inwoners het nou ‘n versoekskrif opgestel in die hoop om die Stellenbosch-munisipaliteit te dwing om straatligte op te rig.

Die versoekskrif volg nadat onder andere twee voetgangers vroeër vanjaar op dieselfde gedeelte van die pad in die oggendure oorlede is. Die 12-jarige Calvin Jansen is op Woensdag 13 Mei voor skool dood nadat hy die Polkadraaipad na maatjies probeer oorsteek het.

LEES OOK: Jong seun wat in ongeluk sterf wou motorwerktuigkundige word

Wyle Calvin Jansen
Die 12-jarige Calvin Jansen is in Mei op die Polkadraaipad dood ná hy deur ‘n motor getref is, toe hy dié pad probeer oorsteek het.

Maatreëls versoek

‘n Maand voor Calvin se noodlottige ongeluk is nog ‘n voetganger, ‘n sekuri- teitswag van ‘n nabye plaas, op dieselfde strook pad oorlede nadat hy voor ‘n motorfiets beland het.

Hoewel dit nie stikdonker was nie, sê inwoners straatligte sou sigbaarheid vir beide motoriste en voetgangers verbeter het.

Sedertdien het ‘n noodkreet weer uit die gemeenskap gekom.

“Ons stel die implementering van verskeie padveiligheidsintervensies voor om hierdie dringende bekommernisse aan te pak. Sleutelmaatreëls . . . is die installering van beter voetoorgange, verbeterde straatbeligting en padtekens om bestuur­ders teen potensiële gevare te waarsku.

“Daarbenewens kan die afdwinging van strenger spoedbeperkings en die vermeerdering van verkeerspatrollies in die gebied as belangrike afskrikmiddels vir roekelose bestuur dien,” lui die versoekskrif wat deur inwoners opgestel is.

By navraag het die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur gesê daar is geen planne om straatligte op te rig nie.

Gedeelde verantwoordlikheid

Beide die provinsie en die Stellenbosch-munisipaliteit is gesamentlik verantwoordelik vir die instandhouding van die pad.

Dié twee partye het ‘n memorandum van verstandhouding wat uiteensit vir watter gedeeltes en bykomende infrastruktuur elkeen verantwoordelik is.

Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die plaaslike munisipaliteit, ­verduidelik histories is die instandhouding van straatligte die verantwoordelikheid van die munisipaliteit, aangesien infrastruktuur langs provinsiale paaie geleë is.

Dié reëling geld ook ander plaaslike ­paaie, soos byvoorbeeld Birdstraat (R304).

“Die spesifieke gedeelte van die Polka- draaipad wat ter sprake is, val onder die jurisdiksie van die provinsie en word daarvolgens bestuur. Die munisipaliteit het met die provinsie geskakel oor die oprig van straatligte op dié gedeelte van die provinsiale pad,” sê Grobbelaar.

Tog is daar sprake dat die munisipaliteit reeds planne gemaak het om straatligte op die pad aan te bring.

Op ‘n onlangse gemeenskapsvergadering in Vlottenburg het ‘n munisipale amptenaar bevestig die proses om die straatligte op te rig, is reeds van stapel gestuur. Dié ligte sal glo van Vlottenburg tot by die Skilpadvlei-plaas opgerig word.

Hoewel dit goeie nuus vir die buurt kan beteken, werk die bestaande straatligte langs die Polkadraaipad tans nie. Vandale en diewe het die straatligte in die buurt buite werking gelaat en danksy ‘n gesloer deur Eskom om die elektrisi- teitstoevoer te herstel, is dié straatligte tans grootliks nutteloos.

Die munisipale amptenaar het op die vergadering ‘n beroep op inwoners gedoen om kabeldiefstal en die vandalisering van infrastruktuur te help bekamp.

LEES OOK: Skote klap op Polkadraai-pad

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article