Dit was met swaar harte en skok dat Vlottenburg Primêr op Woensdag 13 Mei die dag moes begin nadat ‘n geliefde leerder die oggend vroeg oorlede is.
Die twaalf-jarige Calvin Jansen is dié oggend voor skool dood nadat hy die besige Polkadraaipad (M12) probeer oorsteek het.
Die skoolseun is deur twee voertuie getref toe hy die pad probeer oorsteek het om by sy skoolmaatjies oorkant die pad te gaan wag. Medelye van Stellenbosch-skole het ingestroom ná die ongeluk.
LEES OOK: Schoolboy (12) killed crossing dangerous stretch op Polkadraai Road

Tweede noodlottige insident
Volgens sy skool was Calvin ‘n sonskynkind en word hy beskryf as “altyd vriendelik, vol glimlagte en met ‘n mooi gees wat lig gebring het waar hy ook al gegaan het”.
Calvin se ongeluk kom byna ‘n maand tot die dag dat nog ‘n voetganger op dieselfde gedeelte van die Polkadraaipad, tussen die afdraai vir Skildpadsvlei en voor die Vlottenburg-buurt se afdraai, sy lewe verloor het.
Op Dinsdag 14 April het ‘n voetganger en ‘n motorfiets gebots. Die 48-jarige voetganger is op die toneel deur paramedici dood verklaar en die motorfietsryer is na ‘n Stellenbosse hospitaal geneem.
Die Stellenbosse polisiewoordvoerder, kapt. Nathalie Martin, het bevestig Calvin is, in sy haas om die pad oor te steek, om 06:45 deur ‘n motor getref en daarna deur ‘n tweede voertuig.
Klagtes geopper
Calvin was saam met ‘n familielid Woensdagoggend, maar het haar hand gelos en gehardloop sonder om die aankomende motor te sien. Calvin en sy gesin is van Skilpadvlei-plaas, net treë van waar die ongeluk plaasvgevind het.
Volgens Calvin se oom Wayne Jansen was die seun skaam en beskeie en het hy nie veel gepraat nie. “Hy was baie lief vir sy familie, maar veral sy ouma en oupa. Kyk, wanneer hy by hulle was, dan het die mannetjie gepraat,” vertel Wayne.
Calvin se droom was om eendag ‘n motorwerktuigkundige te word en volgens sy familie het hy gereeld nog met sy karretjies gespeel.
Klagtes en ongelukkigheid oor die gebrek aan beligting op die pad is geopper.
Eikestadnuus het na die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur uitgereik vir kommentaar, wat gesê terugvoer sal later vandeesweek verskaf word.
- ‘n Gedenkdiens word Vrydag 22 Mei by Vlottenburg Primêr om 11:00 vir Calvin gehou.






You must be logged in to post a comment.