Wyle Ruché Basson
Wyle Ruché Basson (8).

Meisie (8) oorlede nadat sy vermoedelik onder ‘n trein beland


Die skool-gemeenskap van Vlottenburg Primêr treur weer nadat nog een van hul leerders verlede week oorlede is.

Ruché Basson, ’n graad tweetjie van die skool buite Stellenbosch, is verlede Dinsdagmiddag (25 Augustus) dood nadat sy vermoedelik onder ’n trein by Lynedoch-treinstasie beland het.

Stellenbosch-polisie bevestig beamptes is om 14:18 na die Lynedoch-treinstasie uitgeroep waar hulle met hul aankoms ’n agt-jarige meisie onder ’n trein gevind het.

Ruché is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Volgens Kaptein Nathalie Martin, ’n polisiewoordvoerder, was Ruché vermoedelik besig om uit die skoolbussie te klim toe sy die treinspoor probeer oorsteek het.

 Ruché Basson
Wyle Ruché Basson van Lynedoch buite Stellenbosch.

Volgens Martin is ’n geval van manslag geopen na Ruché se dood.

Vlottenburg Primêr het ná die gr.2- leerder se dood hul medely met Ruché se familie betoon. “Met groot hartseer neem ons afskeid van een van ons geliefde leerders. Ons harte is stukkend, en ons gedagtes en gebede is by haar familie, geliefdes, klasmaats, die hele Vlottenburg Primêr en Lynedoch-gemeenskap gedurende hierdie ongelooflik moeilike tyd,” het die skool geskryf op Facebook.

Die span van Vlottenburg After School Care het gesê maatjie Ruché sal beslis gemis word.

Lynedoch-treinstasie
Die Lynedoch-treinstasie buite Stellenbosh. FOTO: Yaël Malgas

’n Ondersoek na die gebeure verlede Dinsdag is ook deur die Spoorpassasiersagentskap (Prasa) van stapel gestuur. Zinobulali Mihi, ’n woordvoerder van Prasa, wou nie veel uitlaat oor die gebeure nie gesien die ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Ruché se pa, Hendrowaan Louw (30) het aan Die Son gesê sy was lief vir drukkies uitdeel en het altyd gehelp met haar jonger sibbe. Ruché was een van ’n tweeling en die oudste van Louw en sy vrou, Rodene, se vyf kinders.

LEES OOK: Schoolboy (12) killed crossing dangerous stretch on Polkadraai Road

Ruché se dood kom maande nadat Vlottenburg Primêr nog ’n leerder verloor het. Calvin Jansen (12) is voor skool doodgery nadat hy die Polkadraaipad probeer oorsteek het. Hy was op Woensdag 13 Mei saam met ’n familielid, maar hy het haar hand gelos en gehardloop sonder om die aankomende motor te sien. Calvin en sy gesin is van Skilpadvlei-plaas, net treë van waar die ongeluk plaasvgevind het.

Ruché se begrafnis vind Sondag (6 September) by die Sustainability Institute in Lynedoch om 09:00 plaas. Die teraardebestelling sal by die Jamestown-begraafplaas wees.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article