Die opkomende sanger, liedjieskrywer en ATKV-Crescendo-opnamekunstenaar, Mark Pekeur, stel vandeesweek sy debuut-EP, Meer as jy, amptelik bekend tydens ‘n spesiale bekendstellingskonsert by die Daisy Jones Teater op die Summerhill-landgoed buite Stellenbosch.

Die Paarliet (22), wat ook lid was van die Suid-Afrikaanse Jeugkoor, neem gehore op ‘n persoonlike reis deur vyf oorspronklike liedjies – “Meer as jy”, “My vingers en die snare”, “Gedra”, “Staan vas in jou geloof” en “Wie is ek”. Die liedjies vorm saam ‘n eerlike verhaal van geloof, identiteit, gebrokenheid, genesing en selfontdekking.

Vir Pekeur is hierdie projek veel meer as ‘n musiekvrystelling.

“Hierdie projek is baie persoonlik, want ek vertel my eie reis. Elke lied dra ‘n stukkie van my hart en my geloof – dit is vir my meer as net musiek. Dit herinner my daaraan dat God deur gebrokenheid meesterstukke uitkerf. Dit is ook ‘n voorreg om die verhoog met Olga Leonard en Whaden Johannes te deel. Vir die eerste keer gaan ek en die ATKV-Crescendo-koor hierdie koorbelewenis saam aanbied, en ek is opgewonde oor die ‘magic’ wat ons saam gaan skep,” sê Pekeur.

Die bekendstellingskonsert word verder verryk met gasoptredes deur Crescendo-mentors en -kunstenaars, Olga Leonard, Whaden Johannes en die ATKV-Crescendo-koor, wat saam met Pekeur hierdie belangrike mylpaal vier.

Op net 22-jarige ouderdom vestig Pekeur hom reeds as ‘n kunstenaar met ‘n unieke stem. Sy musiek word gekenmerk deur ‘n akoestiese folkklank, gedra deur sy kitaarspel en lirieke wat eerlik, emosioneel en diep menslik is. Sy liefde vir musiek het reeds as kind in die kerk en jeuggroep begin, waarna hy homself kitaar leer speel het. Vandag ontstaan sy liedjies meestal in stilte – net hy en sy kitaar.

“Dis meeste van die tyd net ek en my kitaar – ek speel rond en werk verskillende melodieë uit totdat iets reg voel,” vertel hy.

Die EP is vervaardig deur drie gevestigde name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – Jean-Marc Meyer, Riku Lätti en Eddy Strings – wat elk hul unieke kreatiewe aanslag bygedra het tot die emosionele diepte en klankrigting van die projek.

Pekeur beskryf sy deelname aan die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram as die grootste keerpunt in sy kunstenaarsloopbaan.

“Crescendo beteken vir my meer as wat woorde ooit sal kan beskryf. Dit is waar ek besef het ek het iets waardevol om te sê met my musiek. Hulle bring lewe in die kunstenaar in jou en help jou om daardie rustende potensiaal uit te leef.”

Met sy musiek hoop Pekeur om luisteraars aan te moedig om hulself beter te leer ken en hoop te vind, selfs te midde van moeilike omstandighede.

“My grootste inspirasie was om ‘n EP te maak wat ‘n impak kan hê op mense se lewens; iets wat genesing en selfondersoek kan bring. Elke snit vorm deel van die lopende storie van selfontdekking en die vind van die self.”

Pekeur is môreaand (28 Augustus) by die Daisy Jones-teater te sien. Kaartjies kos R150.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article