Hoekom besluit jongmense om hul in Afrikaans uit te leef en besluit hulle om hul geld in dié taal te verdien?
Dit was die vraag aan die musiekman Selby Williams (32), akteurs Miché van Wyk (26) en Aviwe Ngabom (28) asook Shawna-Leze Meiring (33), wat Afrikaanse kinderboeke redigeer, op die Vriende van Afrikaans (VVA) se onlangse Ommietafelgesprek in Stellenbosch.
Die gesprek is gelei deur dr. Gillian Arendse, bekende wetenskap- en motiveringspreker.
LEES OOK: Afrikaanse radio takel uitdagings

Verskillende stories
Vir al vier paneellede is hul huistaal met hul loopbane en komvandaan verweef.
Shawna-Leze het in ‘n huis van lesers grootgeword en smiddae ná skool by die biblioteek deurgebring waar haar ma gewerk het. Sy meen haar liefde vir lees is dus vroeg ingeburger. Om in die boekbedryf te werk, was vir haar ‘n logiese stap.
In Selby se geval het sy musiekloopbaan reeds op skool begin toe hy ‘n oudisie gedoen het om in die skoolkoor te sing. Vandaar het liedjieskryf en optredes, natuurlik in sy moedertaal, gevolg, asook deelname aan die ATKV-Crescendo-program.
Miché se liefde vir verhale en stories spruit deels uit haar ouma se leserskring-intekening en haar ma, ‘n bibliotekaresse. Op drie het sy reeds gelees en elke karakter sy eie stemmetjie gegee. Dit was die begin van haar toneelspel.
In Aviwe se geval het sy pad met Afrikaans met sy geboorte begin.
Nadat sy ma by die dood omgedraai het, is die akteur met ‘n noodoperasie in die lewe gebring. Toe sy ma wakker geword het, het sy iemand oor Aviwe in Afrikaans hoor bid. “Sy het toe besluit ek moet Afrikaans grootgemaak word,” verduidelik Aviwe.
Afrikaans deel van hulle
Nou, jare later, bly Afrikaans die taal waarin hulle dink, doen en droom.
“My taal en my geloof is in my siel,” vertel Selby. “Ek het verskeie kulture ervaringe gehad en ondervind wanneer ek optree, al verstaan die gehoor nie Afrikaans nie, glo ek hul siel sal verstaan. Ek het dit reeds in ander kulture ook ervaar – indien kunstenaars iets uitvoer in hul taal, dan slaan iets net so binne in jou in. Dit is wat taal kan doen, want dis eg en dit kom uit jou hart.”
Vir Miché bied ‘n loopbaan in Afrikaans geloofwaardigheid en verteenwoordiging.
“Ek kan nie sê ek wil my mense se stories vertel en dan skryf in Engels nie. Ek moet skryf soos hulle praat,” sê dié Namakwalander.
“Dan maak ek dit selfs nog meer persoonlik deur mý Afrikaans te praat, soos ek praat en klink. As kind, wanneer ek televisie gekyk het en ek sien bruinmense, dan praat hulle gewoonlik Kaaps en ek het gewonder maar waar is die bruinmense wat my Afrikaans praat? Dit is hoekom ek streef om my mense op die map te sit.”
Nie sonder uitdagings
Die vier paneellede was dit eens dat stories mag het – en stories in jou eie taal nog meer só.
Daarom was dit ook verblywend vir Shawna-Leze om die belegging in Afrikaanse kinderboeke te sien toe die departement van onderwys saam met uitgewers gewerk het om leesstof vir grondslagfase-leerders in al die amptelike tale te verskaf.
Tog is ‘n loopbaan in Afrikaans nie sonder sy uitdagings nie. Aviwe sê ná sy rol as Avukile Makwethu in die sepie Arendsvlei het die werk opgedroog.
Gegewe die vele kunstenaars wat op ‘n projek-basis werk, bly die uitdaging om finansieel kop bo water te hou in die tye tussen projekte. Tog neem hulle dan ook dié tye om self te skep, mentors vir ander te wees en hoop by die jonger generasie te skep.
Chareldine van der Merwe van VVA beaam in ‘n land wat ver-Engels, is dit belangrik om te onthou daar is werk in Afrikaans.
LEES OOK: Taal en passie in Pniël






You must be logged in to post a comment.