ATKV Crescendo: Divas in Afrikaans
Van die land se grootste vrouestemme is vanjaar op die verhoog by ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans.

Crescendo-divas kom sing by Daisy Jones-teater op Stellenbosch

ATKV Crescendo: Divas in Afrikaans
Van die land se grootste vrouestemme is vanjaar op die verhoog by ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans.

Karin Hougaard, Anna Davel, Ilse Klink, Andriëtte Norman, Stephanie Baartman en Gracia Louw is van die vrouestemme wat op Saterdag 4 Julie die verhoog vir die­ ATKV-­Crescendo Goud: Divas in Afrikaans by die Daisy Jones-teater op die Summer­hill-­­landgoed in Stellenbosch betree.

Saam met hulle tree ‘n jonger geslag Crescendo-stemme op, onder wie Lizl Simoes, Tamryn Madalé en Janine Fourie, in ‘n konsert wat hulde bring aan die vroue wat oor 52 jaar uit Crescendo gegroei het en die oorspronklike Afrikaanse musiek wat uit hul stemme, penne en stories gebore is.

Volgens Morné Ayeni, die projekkoör­dineerder, is die gedagte om erkenning te gee aan die groot rol wat vroue in Crescendo se geskiedenis vervul het.

“ ’n Magdom musiek is oor 52 jaar binne Crescendo geskep en ‘n groot deel daarvan kom uit vroue se penne en stemme,” sê Ayeni.

“Ons wil nie net hulde bring aan die sielryke stemme nie, maar ook aan die pragtige, oorspronklike Afrikaanse musiek wat deur vroue in Crescendo geskep is.”

LEES OOK: ATKV-Crescendo kan jou loopbaan laat vlam vat

Anna Davel sanger
Die sangeres Anna Davel is vanjaar deel van ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans by die Daisy Jones-teater in Stellenbosch op Saterdag 4 Julie.

Hulde gebring

Die konsert kyk egter nie net na Crescendo se eie nalatenskap nie.

Omdat Crescendo deur die groter Afrikaanse musieklandskap gevorm is, bring Divas in Afrikaans ook hulde aan ander vroue wat met hul eie oorspronklike werk, egtheid en verhoogteenwoordigheid diep spore in die Afrikaanse musiekwêreld getrap het.

Die program bring verskillende geslagte Afrikaanse vrouestemme saam – van huishoudelike Crescendo-name soos Hougaard en Davel, tot die legen­dariese aktrise Klink, wat in die 1990’s aan Crescendo deelgeneem het, en ikoniese kunstenaars soos Norman, Baartman en die digter Louw, wat elkeen met hul eie stem, styl en oorspronklike werk ‘n merkbare plek in die Afrikaanse musieklandskap ingeneem het.

Die jonger Crescendo-stemme soos dié van Simoes, Madalé en Fourie voltooi die program en wys hoe die Crescendo-nalatenskap voortleef in nuwe kunstenaars wat hul eie stories in Afrikaans vertel.

LEES OOK: ATKV-Crescendo vier vyf dekades met GOUD

Egte musiek

Die gehoor kan ‘n vertoning verwag wat met die hart praat – musiek wat eg, oorspronklik en onmiskenbaar Afrikaans is. Van die mooiste ballades en liefdes­liedjies tot bekende gunstelinge wat gehore sal laat opstaan en dans, beloof die aand om ‘n viering van vrouestemme, stories en klank te wees.

“Crescendo is dié plek waar legendes gebore word,” sê Ayeni. “Met hierdie konsert vier ons die vroue wat oor dekades heen nie net gesing het nie, maar ook geskep, vertel, gevorm en inspireer het.”

ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans is ‘n terugflits, ‘n dankbetuiging en ‘n viering van die vroue wat Afrikaanse musiek met siel, storie en oorspronklikheid verryk het.

Dit vind op Saterdag 4 Julie om 17:30 vir 19:00 plaas. Kaartjies teen R200 is aanlyn deur Quicket beskikbaar.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article