Jare nadat dr. Michelle von Stein besluit het om haarself ‘n breek te gee ná jare lange studies het sy byna per abuis haar tekstiel-onderneming, CoralBloom, begin.
Von Stein het haar kwalifikasies aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en het haar laboratoriumjas vir rokke, sakkies en kussings verruil.
“My ouers het ons altyd aangemoedig om kreatief te wees, maak nie saak of dit klei, kraletjies, kollageen of materiaal en kuns was nie. Ons is aangemoedig om te speel en kreatief te wees, so ek dink [kuns] is ‘n spontane ding vir ons,” verduidelik die Stellenbosser.

Van laboratorium na lap
Nadat sy haar doktorsgraad in plantkunde en mikrobiologie voltooi het, het Von Stein haarself in 2019 ‘n jaar “af gegee”.
Tog kon sy nie stilsit nie en het reeds in die eerste week van haar vakansie begin om skryfbehoeftes te skep met pragtige papier wat sy in Nederland gekoop het.
Dié kaartjies het sy aan plaaslike ondernemings begin verskaf en dit was so gewild dat sy finansieel deur die jaar kon kom.
Sy vertel toe die oorsese papier opgeraak het, het sy haar ma, Ann Jooste, ingespan om blomme en diere vas te vang.
In hul kinderdae het die Von Stein-gesin in Kaap Infanta aan die Breederivier gaan vakansie hou. Sy meen hierdie wilde natuurskoon was altyd in die agterkop en nou ook deel van haar ma se daaglikse inspirasie, gesien haar ouers hier gaan aftree het.
Dit is die see, fynbos en diertjies hier wat deel is van baie van CoralBloom se ontwerpe.
Die entrepreneur in Von Stein is destyds as eerstejaar reeds aangewakker nadat sy begin skubaduik het. “My ouers het gesê dis alles reg as jy die stokperdjie wil beoefen, maar dit is baie duur en jy sal self daarvoor moet betaal.”
Von Stein het toe juweliersware begin maak en verkoop en die sakevrou in haar is toe aangewakker.
Nou skep sussie Megan Potgieter en Jooste die kunswerke wat Von Stein in Somerset-Wes en Kaapstad op materiaal laat druk. Van hier maak ‘n span van 26 oorwegend afgetrede vroue oor die land heen die sakkies, kussingslope, vadoeke en talle meer wat na gastehuise, hotelle en ander gestuur word.

Eg Suid-Afrikaans
Benewens CoralBloom se kontrei-ontwerpe is elke ander aspek van CoralBloom se produkte eg Suid-Afrikaans. Die vroue wat alles stik, die verskaffers wat die materiaal maak tot tosseltjies wat aan die sakkies geheg word, is alles Suid-Afrikaans.
“Ek verstaan heeltemal hoekom ander ontwerpers na China of ander Asiese land gaan om hul produkte te vervaardig – dit is aansienlik goedkoper,” vertel sy.
Tog was dit belangrik vir Von Stein om alles op tuisbodem te hou. Of dit Von Stein se man, Xavier, is wat rolle materiaal moet dra, haar pa Nico wat die leerbandjies vir handsakke sny of die ma-en-dogter-span wat die kuns skep, is CoralBloom ses jaar later steeds ‘n familie-onderneming.
Sy bieg een van haar grootste bekommernisse is om te vinnig te groot te groei. Hoewel dit beteken sy is betrokke by elke aspek van die onderneming, beteken dit ook elke item wat vervaardig word, haal haar hoë standaarde.
Een van Von Stein se sleutels tot sukses blyk haar gretigheid om altyd meer te leer. “Die wonderlike ding is, ek hou daarvan om dinge te leer. Ek was van die begin af baie bewus dat ek inkom in hierdie wêreld waarin ek nie die agtergrond het nie. Ek het geweet ek moet die feite gaan kry, ek moet advies gaan kry en mentors vind en van kunidiges leer.”
Hierdie soeke na kundigheid het Von Stein by die Craft & Design Institute in Kaapstad laat draai, wat gelei het tot haar vind van ‘n mentor, sake-programme vir die kreatiewe sektor en selfs ‘n toelaag wat haar in staat gestel het om nog moderne toerusting vir CoralBloom aan te koop.
Von Stein meen om in die kreatiewesake-sektor te wees verg ‘n sekere soort persoonlikheid. “Dis ‘n persoon wat kan floreer in die onbekende want, hierdie is nie ‘n voorspelbare werk waar dit net altyd dieselfde gaan wees nie. Dinge verander so vinnig ek dink jy moet ‘n bietjie risiko, ‘n bietjie onsekerheid kan weerstaan en baie hard kan werk en nog steeds die mallemeul van alles kan geniet.”
Haar droom bly om ‘n CoralBloom-winkel oop te maak, maar vir nou is CoralBloom- produkte aanlyn beskikbaar. “Die naam kom van ons liefde vir die kleur en die see – koraal (coral) en blomme en die natuur (bloom) wat so mooi die ‘essence’ van wat ons doen, opsom.”






You must be logged in to post a comment.