Die konstruksiewerk aan Laer Dorpstraat in Stellenbosch se dorp is goed op dreef en sal na verwagting in Julie 2027 voltooi wees.
Dié padopgradering by die Shell-vulstasie is deel van die Stellenbosch-munisipaliteit se groter padopgraderings en deel van ‘n beplande dubbelbaan-pad.
Werkers het oor die afgelope weke bome en wingerde uitgehaal om vir die nuwe bane plek te maak, uitgrawings voltooi en reeds ‘n gedeelte van die pad geteer. Die Laer Dorpstraat-projek behels om uiteindelik die pad tussen die R44 en Adam Tasweg na dubbelbane te vergroot.
Benewens die padopgradering word nog ‘n groot perseel in dié deel van dorp gebou namate werk aan die Van Rijn-meent vorder. Dié sentrum word deur Dorpstraat-ontwikkelaars behartig.
Laer Dorpstraat verbreed
Volgens Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder van die plaaslike munisipaliteit, was die verbreding van Laer Dorpstraat een van die munisipaliteit se vereistes om die beplande sentrum goed te keur.
“Die projek is deel van die munisipaliteit se breër program vir infrastruktuurverbetering, wat daarop gemik is om verkeersopeenhoping te verlig, verkeersvloei te verbeter en bestaande knelpunte in die padnetwerk aan te durf,” sê Grobbelaar.
Verkeersknope is lank reeds ‘n probleem in die Eikestad en dit blyk inwoners is verdeeld oor die komende Van Rijn-meent, juis namate die dorp oor die afgelope jare uitgebrei het.
‘n Deel van die munisipaliteit se vereistes vir nuwe ontwikkelings sluit in padopgraderings waar dit van toepassing is. In die meent se geval het die munisipaliteit sy raamwerk vir ontwikkelingsvereistes toegepas.
Dit beteken die Laer Dorpstraat-opgraderings word deels deur die ontwikkelaars finansier.
LEES OOK: Opinion | Botmaskop appeal could shape future of environmental governance

Van Rijn-meent
Die Van Rijn-meent sal na verwagting 10 650 m² groot wees. Winkels, kantore en korttermynverblyf vorm deel van die ontwikkeling. Checkers en Investec is volgens die Dorpstraat-ontwikkelaars se webblad reeds as huurders bevestig wanneer die sentrum teen Maart 2028 voltooi sal word.
“Die Van Rijn-meent is ‘n belegging in die toekoms van Stellenbosch en sy gemeenskappe,” sê Lu Bester, ‘n woordvoerder vir die ontwikkelaars.
Bester sê die meent is ‘n ontwikkeling met drie verdiepings, met kleinhandel en restaurante op grondvlak, kantore op die eerste verdieping en korttermynverblyf in hotelformaat heel bo. Parkering – nog ‘n daaglikse kopseer in Stellenbosch – sal ondergronds wees.
Talle oop ruimtes en voetganger-vriendelike roetes sal ook gebou word. “Op straatvlak sien ‘n mens die plein, die wandelgange, groot bome en die vooraansig van winkels, nie ‘n parkeerterrein nie. ‘n Interne voetgangerstraat verbind Dorpstraat met die sentrale plein en skep só ‘n nuwe kuierplek in die hartjie van Stellenbosch,” sê Bester.
Die hotel-afdeling bied verblyf, terwyl die eiendom soos ‘n tradisionele gasvryheidsvenue met blyplek bestuur sal word.
Die teikengroep is besoekers wat vir sake en ontspanning in Stellenbosch kuier.
Bester sê die aantal verblyfeenhede sal bevestig word namate die ontwikkeling vorder.
LEES OOK: Stellenbosse munisipale transaksies dán bekyk, sê LUR-woordvoerder

Toename in verkeer verwag
Onder die klagtes van inwoners oor uitbreidings soos die meent, is dat Stellenbosch besig is om van ‘n dorp na ‘n stad te verander.
Ander meen die munisipaliteit jaag die inkomste van ontwikkelings na, terwyl nog ander sê die dorp het oorgenoeg winkels en het nie nog nodig nie.
Onder die kritici van die projek is die raadslid JC MacFarlane (VF+). “My grootse bekommernis is verkeer,” verduidelik MacFarlane. “Die plan sluit ‘n dubbele rybaan in en ek glo nie dit gaan die verkeersopeenhoping oplos nie. Trouens, die bewyse dui op die teenoorgestelde. Dit is nie net my mening nie
“Inwoners en die Stellenbosch-belastingbetalersvereniging het reeds dieselfde kommer oor die verbreding van Laer Dorpstraat uitgespreek. Hulle verwag ‘n toename van 30% tot 50% in verkeer in die middestad, wat reeds oorvol is.”
Benewens sy bekommernisse oor die verkeer, beklemtoon MacFarlane die erfenis wat reeds verlore is deur die eikebome af te kap en wingerde uit te haal om vir die pad plek te maak.
Hy sê talle inwoners voel mislei deur wat hulle verwag het en wat nou gebou word.
Op sy beurt sê Grobbelaar die erfenis van die omgewing is in ag geneem met verskeie oorwegings wat tydens die beplannings- en goedkeuringsproses is in ag geneem is met etlike vereistes wat vir die meent-ontwikkeling gestel is. “Die behoud van die erfeniskomponent geniet voorkeur, tesame met die verbetering van die padnetwerk en die veiligheid van padgebruikers,” sê Grobbelaar.
Ten spyte van inwoners se kwellinge oor die meent-projek sê die ontwikkelaar die dorp se erfenis is deel van die argi-tektoniese benadering vir die bouwerk.
“Die ontwerp voldoen aan die erfenisvoorwaardes en sluit by die gevestigde beboude omgewing en erfeniskarakter van die Dorpstraat-korridor aan. Die meent sal geliefde handelsname huisves, saam met ‘n mengsel kommersiële en professionele verskaffers, wat by ‘n voetganger-vriendelike ontwikkeling pas,” verduidelik Bester.
LEES OOK: Stellenbosch-munisipaliteit se grootste begroting nog






You must be logged in to post a comment.