Verkeerskopseer is deesdae sinoniem met die dorp Stellenbosch.
Inwoners kla oor die tyd wat dit neem om werk of huis toe te reis, terwyl talle uitnodigings vir geleenthede in sentraal-Stellenbosch met ‘n vriendelike versoek kom om die trae verkeer in gedagte te hou sodat die verrigtinge betyds kan begin.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het oor die jare heen verskeie oplossings vir die verkeersprobleme ondersoek, maar nie die bou van nuwe paaie, die omstrede multi-verdieping-parkeergebou of die munisipaliteit se eie nie-gemotoriseerde vervoerbeleid (NMT) is tot nou al ten volle ingestel nie. Paaie en vervoer, wat saam met stormwater groepeer word, blyk die grootste probleem vir inwoners.
LEES OOK: Groot twis in parkeerplan vir Stellenbosse dorpskern
Die meeste kommentaar wat op die laaste Geïntegreerde Ontwikkelingsplan-vergaderings (GOP) gelewer is, is oor dié afdeling. Vir die 2025-’26-GOP is 288 kommentare hieroor aangeteken en dit is die enigste kwessie wat in ál 24 munisipale wyke genoem is.
Volgens Piet van Blerk, ‘n padingenieur van Stellenbosch, het die munisipaliteit nie ‘n gebrek aan oplossings vir die verkeers- probleme nie. Volgens hom is dit eerder ‘n gebrek aan dryfkrag in die munisipaliteit om die nodige projekte in te stel, langtermyn beplanningskundiges in die betrokke posisies te plaas en die praktiese uitvoering van die munisipaliteit se planne.
“Oplossings vir al die grootste probleme is beskikbaar. Die munisipaliteit moet net sy eie padmeesterplan toepas, maar dan kry jy gevalle waar raadslede planne teenstaan – planne wat die raad reeds goedgekeur het,” verduidelik Van Blerk.
Padmeesterplan – agt jaar later
Die munisipaliteit het in 2012 sy eerste padmeesterplan opgestel. Die dokument dek die hele munisipale gebied en het onder meer “ ’n geprioritiseerde lys van infrastruktuurprojekte” geskep.
Onder die projekte in die dokument, wat in 2022 opdateer is, is planne vir die oostelike skakelpad tussen Technopark en die middedorp. Dié beplande pad, wat fiets- en voetgangergeriewe insluit, behels onder meer die verlenging van Van Reedeweg en ‘n verbinding met Pastorieweg by die Universiteit Stellenbosch se teologiese fakulteit, met ‘n nuwe voorgestelde brug oor die Eersterivier.
Van Blerk sê hierdie pad sal daadwerklik ‘n verskil maak en talle motoriste wat van Brandwacht, Paradyskloof en De Zalze reis ‘n alternatief vir die besige R44 bied.
“Die pad moet uiteindelik by Paul Roos Gimnasium uitkom, dan sluit dit by Dorpstraat aan. By Suidwalstraat is heelwat oop grond waar parkering gebou kan word, dan loop mense net oor die rivier en hulle is in die dorp,” verduidelik hy.
Die munisipaliteit se padmeesterplan maak ook melding van ‘n westelike verbypad wat beoog om verkeer op die R44 te verlig.
Van Blerk sê volgens verkeersmodulering, wat reeds jare gelede gedoen is, sal ‘n bykomende westelike verbypad ‘n groot verskil aan verkeer op hoofroetes deur die dorp hê. “Verkeer op die R44 in die omgewing van Dorpstraat kan met tussen 20% en 25% verminder word.”
Die westelike verbypad moet volgens Van Blerk ‘n provinsiale pad wees wat deur die provinsie gefinansier moet word.
Wat die Technopark-skakelpad tussen Technopark en Adam Tasweg (Polkadraai- pad) betref, sê Van Blerk die aanvanklike tydlyn was dat die projek binne vier jaar gebou sou word. Dis nou al agt jaar later en geen pad is gebou nie.
“Hierdie pad sal ‘n enorme verskil maak ten opsigte van verkeer na en van Technopark, die verkeer op Adam Tasweg dorp toe, asook die verkeer op die R44 van Annandalepad na Technopark.”
Wat hom betref, vererger die onkunde van politici ten opsigte van verkeer ook voortuitgang aangesien sommige die munisipaliteit se ingenieursplanne afkeur. Hy sê kontinuïteit in ‘n paaie-afdeling is uiters belangrik vir ‘n munisipaliteit se susesvolle bestuur en dit is juis wat by die Stellenbosch-munisipaliteit gebrekkig is.

Padprojekte ontwerp en beplan
Om verder verkeer in Stellenbosch te verlig, moet die munisipaliteit openbare vervoer asook voetganger- en fietsgeriewe – iets wat gebrekkig is – as ‘n saak van dringendheid hanteer, sê Van Blerk.
Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, het by navraag verduidelik die munisipaliteit monitor die verkeer deurlopend met verkeersopnames en voertuig-telling op sleutelpaaie- en kruispunte.
Hierdie paaie en punte sluit onder meer Dorpstraat, Adam Tasweg, Birdstraat en Alexandrastraat in. Dís juis die hoofroetes na en van die dorpsgebied waar motoriste bedags van een verkeerslig na die ander kruip.
Grobbelaar sê die data word gebruik vir verkeersontwerpe, uitbreiding en verkeers- impakstudies. “Verkeersdatamodules is reeds by ses groot kruispunte aangebring, met planne om dit na 36 verkeersseine reg oor die munisipale gebied uit te brei om seininstellings te verfyn en knelpunte te verminder,” verduidelik hy.
Eikestadnuus het in September verlede jaar met die span agter Quebit oor hul verkeersmoniteringsagteware gesels. Die onderneming, wat in Technopark geleë is, gebruik kunsmatige intelligensie om verkeersaktiwiteit te monitor en verkeersligte onmiddellik aan te pas om verkeersvloei te verbeter.
“Om verkeersvloei verder te verbeter, is opgraderings by drie belangrike kruispunte op Adam Tasweg, naamlik by Alexander-, Dorp- en Merrimanstraat, geïdentifiseer, terwyl projekte soos die Birdstraat-dubbelbaanprojek en die verbreding van Laer Dorpstraat tans in die ontwerp- of beplanningsfase is,” sê Grobbelaar.
Die Laer Dorpstraat-projek behels om die pad tussen die R44 en Adam Tasweg na dubbelbane te vergroot en sal na verwagting later vanjaar van stapel gestuur word.






You must be logged in to post a comment.