‘n Gebrek aan wetgewing wat e-skopfietse betref het die gewilde GoNow-e-skopfietse se bedrywighede in die wiele gery.
Almal – van studente tot veiligheidswagte – het tot onlangs op die blou elektriese skopfietse van GoNow gespring om in Stellenbosch rond te ry, maar vir nou staan die e-skopfietse grootliks verlate op die dorp se sypaadjies.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het vroeër vanjaar ‘n kennisgewing aan die plaaslike onderneming uitgereik dat dié vervoerdiens voor 1 Maart sy bedrywighede moet staak.
Die munisipaliteit het aan Jacob Levitan, ‘n mede-stigter en die uitvoerende beampte van GoNow, verduidelik indien dit nie gebeur nie, die skopfietse deur die munisipaliteit opgelaai sou word. Dit het egter nie gebeur nie.
LEES OOK: Scooters’ free-wheeling a problem

‘Wet maak nie voorsiening’
GoNow se e-skopfietse is jare lank reeds ‘n kopsorg vir sommige in die dorp, maar ‘n goedkoop manier om vinnig op en af te ry vir ander.
Die voormalige burgemeester Gesie van Deventer het twee jaar gelede reeds uitgelig dat die munisipaliteit ‘n gebrek aan beleid het om die e-skopfietse te reguleer. “Daar is ‘n effense gebrek in die verordeninge,” het Van Deventer in Augustus 2024 gesê.
Sedertdien was daar geen amptelike verandering aan die munisipale beleid nie.
Volgens Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoerder, word die e-skopfietse ingevolge die nasionale verkeers- en vervoerwetgewing (Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996) en regulasies (Nasionale Padverkeersregulasies, 2000) verbied. Hierdie wette bepaal dat e-skopfietse nie op openbare paaie mag ry nie.
“Die munisipaliteit tree ten volle in ooreenstemming met die wet op en het kennisgewings uitgereik wat die opskorting van hierdie diens vereis, terwyl ons regsverteenwoordigers aangestel het om ‘n moontlike weg vorentoe te ondersoek,” verduidelik Grobbelaar.
“Soortgelyke stappe is ook deur die Kaapse Metroraad geneem. Ons het met die Wes-Kaapse Departement van Vervoer saamgewerk om moontlike wettige weë vir die gebruik van hierdie rygoed te ondersoek. Die huidige wetlike raamwerk maak egter eenvoudig nie voorsiening vir die gebruik daarvan op openbare paaie nie.”
LEES OOK: Leserbrief: “Wie baat by Stellenbosch se e-bromponies?”
Veiligheid onder die loep
Die munisipaliteit sê die verbod teen GoNow het gekom nadat twee kinders beseer is terwyl hulle die e-skopfietse gebruik het.
“Ons primêre bekommernis is en bly die veiligheid van alle padgebruikers – bestuurders, fietsryers, motorfietsryers en voetgangers. Twee minderjariges is onlangs ernstig beseer weens die gebruik van hierdie diens,” sê Grobbelaar.
Om ‘n e-skopfiets te gebruik, moet ryers die GoNow-app aflaai, hul identiteit verifieer om te verseker hulle is 16 jaar of ouer, en die QR-kode skandeer om die skopfiets te aktiveer.
“Ons huidige beheermaatreëls sluit in gebruikersverifikasie, ouderdomsbeheer, geofencing, spoedbeheerde sones, aangewese parkeerplek, streng bepalings en voorwaardes en ‘n personeel op die grond wat 24/7 ure diens doen. Ons hersien hierdie maatreëls namate die diens groei,” verduidelik Levitan.
Die twee beseerde kinders, onderskeidelik 12 en 14 jaar oud, het blykbaar die verifikasie omseil deur hul sibbe se identiteit te gebruik.
Som ry steeds
Levitan sê die plaaslike onderneming het gekom as ‘n praktiese oplossing vir ‘n dorp wat onder verkeersprobleme gebuk gaan. Die idee van GoNow was om die gaping te vul waar reisafstande te ver was om te stap, maar te kort was om ‘n motorrit te regverdig.
Met sowat 40 000 ritte per maand blyk dit Stellenbossers het baat gevind.
‘n Versoekskrif, wat tans meer as 2 400 handtekeninge het, is opgestel in ‘n poging om die munisipaliteit aan te spoor om GoNow in die dorp te hou. Stellenbosch is GoNow se grootste bedieningsgebied en het sowat 20 werknemers.
Levitan sê GoNow is meer as bereid om saam met die munisipaliteit te werk om veiligheid te verseker en reëls na te kom, maar gesprekvoering met versoeke vir “konstruktiewe gesprekvoering” het glo nie veel opgelewer nie.
“Ons soek konstruktiewe skakeling met die Stellenbosch-munisipaliteit en ‘n duidelike tussentydse raamwerk vir mikromobiliteit in Stellenbosch, eerder as die skielike staking van ‘n diens waarop mense reeds staatmaak,” sê Levitan.
Sommige Stellenbossers steur hulle egter nie aan die verbod nie en enkele ryers is vandeesweek steeds in die dorpsgebied op ‘n GoNow e-skopfiets gewaar.
LEES OOK: Lesersbrief II Oplossings afgeskiet





You must be logged in to post a comment.