Die versoeking om uiters beledigend te raak ná die lees van “Gegriefde inwoner” se brief en Stuart Grobbelaar se gebruiklike skottelgoedwaterantwoord is bykans onweerstaanbaar.

Kom ons spaar dan maar die eerste klap na die taalversorger van die publikasie – die produk wat deur GoNow aangebied word tot die oorweldigende voordeel van Stellenbosch is nie ‘n e-bromponie nie, maar ‘n e-skopfiets. Die gesegde is ook nie “in rep in roer” soos elders deur Eikestadnuus gepleeg nie, maar “in rep en roer”.

Terug by die e-skopfietse . . .  Die ontsteltenis daaroor kom weer eens uit dieselfde reaksionêre kringe wie se verkramptheid die einde van die Dorpstraatmark beteken het, en wat sal beteken dat die uitste- kende idee om Kerkstraat op Sondae in ‘n voetgangersparadys te omskep skipbreuk sal ly voordat dit eers te water gelaat is.

Gelukkig vir dié kring word Stellenbosch bestuur deur ‘n verbeeldinglose spul onder politieke leiding van Jeremy Fasser en die administratiewe leiding van Geraldine Mettler. Hulle het nog nooit ‘n oorspronklike idee van hul eie gehad nie en het nog nooit ‘n goeie idee gesien wat hulle nie kon afskiet, of ‘n slegte idee wat hulle nie oorhaastig kon implementeer nie.

Kyk gerus na Botmaskop en die nuwe vullisverwyderingskedule in Kerkstraat as voorbeeld hiervan.

Stellenbosch gaan gebuk onder ‘n reuse-voertuigkrisis. Genadiglik het die woordvoerder van die munisipaliteit in Februarie aan Die Burger gesê dat die probleem te veel voertuie is. Ten spyte van die verstommende insig word elke inisiatief wat die hoeveelheid voertuie wat in Stellenbosch ry en parkeer sal verminder, deur die bende in beheer teengestaan.Dit gaan nie net oor GoNow nie, maar ook dienste soos Uber en Bolt, en afleweringsdienste soos Checkers se Sixty60.

Elke keer wat ‘n GoNow of afleweringsbromponie by jou verbyflits, onthou dat dit een minder kar is wat die paaie verder verstop en een minder parkeerplek wat benodig word. Om van die voordele in terme van verminderde skade aan die omgewing nie te praat nie. Elke keer wanneer jy agter ‘n Uber stop wat iemand aflaai, onthou dat hulle darem nie voor jou moet probeer parallel parkeer nie.

Die oplossing vir die voortbestaan van die krities noodsaaklike dienste is nie die stadsraad se gewone toondoof, stompsinnige beboet-die-oplossing-uit-die-dorp nie. Dink eerder hoe Stellenbosch wat haarself, verkeerdelik, as tegnologies progressief sien, skouer aan skouer met die nuwe onafwendbare tegnologie kan staan.

Uber en Bolt moes lank gelede reeds strategiese af- en oplaaipunte in die dorp gehad het. Dalk met bankies by vir passasiers. Dieselfde geld vir afleweringsbromponies. Voorts moes daar ook al lankal badkamerfasiliteite by ‘n sentrale wagpunt, bv. Die Braak, vir die werkers gewees het. Ek het geen twyfel dat beide Uber en Bolt die koste hiervoor sal deel nie.

Vir die GoNow e-skopfietse kan daar in samewerking met GoNow (en ek weet hulle sagteware maak hiervoor voorsiening) spesifieke stoppunte in die dorp geskep word. Een per blok of iets in die lyn. Probleem opgelos en niemand hoef beboet te word nie.

Dit sal nie gebeur nie, want die stadsraad is besig met goedkoop politiek en om die burgery oningelig te hou oor water- kwessies en hul gek ontwikkelingsdrome.

Aan “Gegriefde inwoner”, ek verstaan dat dit irriterend is as ‘n mens in verkeer vassit en die jongmense so windgat by jou verby flits op ‘n e-skopfiets en al hul eerste bier gedrink het voor jy nog die onderkant van Dorpstraat bereik het, maar probeer tog maar kalmeer.

Dit blyk dat die versoeking uiteindelik toe wel onweerstaanbaar was.

Ook ‘n gegriefde inwoner, maar vir ordentlike redes,

E-POS

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article