Die afgelope naweek het vir een of twee opskuddings in die verskeie klubrugbyligas van die Westelike Provinsie gesorg.
Dit was veral die uitslag van die Superliga C-stryd tussen Raithby Universals en Kylemore wat die grootste verrassing gebring het, met die eersgenoemde wat ‘n noue sege behaal het.
Die spanne het mekaar die stryd op die Raithby-sportgronde aangesê. Hoewel Kylemore een van die voorlopers in die liga is, was dit die tuisspan wat aan die einde van die wedstryd met 44-41 op die telbord die oorwinning gevier het.
Met die nederlaag en ‘n laer punteverskil het die span van die Dwarsriviervallei sy plek bo-aan die punteleer aan Watsonia Warriors afgestaan en albei spanne het sover 33 punte bymekaar gemaak.
Aan die ander kant het die sege vir Raithby ‘n hupstoot op die punteleer gegee, met dié span wat met maksimum punte uit die stryd getree en van 13de plek na 10de geklim het.
LEES OOK: Kylemore at the summit of club rugby’s Super League C
Superliga A-spanne trap klei
In die ander Superliga C-wedstryd met ‘n plaaslike span, het Pniël Villagers sy goeie vorm voortgesit deur op tuisbodem met Eersterivier af te reken. Die tuisspan het ‘n 18-10 sege behaal en sodoende met sy teenstander plekke op die punteleer geruil om nou die vierde plek te beklee.
In Superliga A was al drie spanne van Stellenbosch en omgewing Saterdag (6 Junie) aan die verloorkant.
US Maties kon in die Danie Craven-stadion nie vir Durbell stuit nie, met die studente wat met 28-36 die knie moes buig; Valsbaai was in Constantia net té sterk vir Franschhoek (57-19) en UniMil het op sy tuisveld sy eerste wen van die seisoen oor die sukkelende Van der Stel-Evergreens behaal (54-37).
Blue Stars skitter steeds
In die Noordelike liga het Blue Stars United sy onoorwonne status behou deur ‘n 31-12-sege oor Stellenbosch-Coro- nations op die Klapmuts-sportgronde te behaal en Faure het in sy tuiswedstryd teen Police Blackheath met 30-23 geseëvier.
Twee plaaslike spanne in dié liga het ‘n bloutjie geloop en is stert tussen die bene huis toe gestuur – Blakes het sy tweede nederlaag van die seisoen gekry in sy wedstryd teen Morning Star United (27-7) en dinge wil maar net nie in plek val vir Cloetesville nie, wat 51-13 teen Fistantekraal verloor het.
Die komende naweek (Saterdag 13 Junie) is al drie SLA-spanne weer in aksie. Maties verwelkom SK Walmers, Franschhoek reis na Floridapark om kragte met Tygerberg te meet en VDE is op tuisbodem teen Villagers in aksie.
In SLB geniet Kylemore die week ‘n ruskans, Pniël Villagers reis na die stad vir hul stryd teen Gardens en Raithby is ook op die pad vir sy wedstryd teen Caledonian Roses in Lansdowne.
Die Noordelike liga sal weer sorg vir twee plaaslike derby’s, met Excelsior wat gasheer vir die onoorwonne Blue Stars speel, en Cloetesville wat nog ‘n kans kry om sy eerste sege aan te teken wanneer hy Faure in Stellenbosch verwelkom. Blakes sal hoop om weer op die wenpad te kom wanneer hulle tuis teen Fisantekraal speel.




