Learners of Khayamandi High are doing their bit to bring rugby to the school.
Daar is nog baie om voor te speel vir plaaslike spanne in die WP se klubrugbyligas.

Plaaslike rugbyspanne woeker vir plek en promosie in WP-ligas


Dinge begin nou vinnig na ‘n kant toe beweeg in die klubrugbyligas van die Westelike Provinsie. Tog is daar nog baie om voor te speel en moontlike promosieplekke op die spel.

Dis veral in Superliga C waar sake bo aan die punteleer interessant lyk. Die komende naweek se wedstryd tussen Kylemore (3de) en Watsonia Warriors (2de) sal sonder twyfel vir ‘n verandering sorg.

Die plaaslike span reis Saterdag 18 Julie na die Vygieskraal-sportveld in Athlone om dinge met die tuisspan uit te spook, maar hy het tot dusver nie so goed in wegwedstryde gevaar nie.

LEES OOK: Stellenbosch’s Super League C teams show their mettle with gritty performances

Photo of rugby ball.
Dinge raak nou interessant in die ligas van die Westelike Provinsie, met veral Superliga C wat vir opwinding bo aan die punteleer sorg. Foto: Pexels

Kylemore se kanse

Die wedstryde waar die span van die Dwarsriviervallei hierdie seisoen aan die verloorkant was, was weg teen Eersterivier (22-15) en Raithby Universals (44-41). Tog het Kylemore oortuigende seges in sy ander drie weg-wedstryde aangeteken.

Die span sal dus met ‘n positiewe houding die stryd teen Watsonia Warriors benader, veral nadat hy die afgelope naweek ‘n ruskans gehad het.

Alhoewel ‘n oorwinning nie ‘n verandering aan Kylemore se plek op die punteleer sal bring nie, sal ‘n sege wel sy aanspraak op die ligatitel versterk.

Die span het tot dusver slegs 10 wedstryde gespeel en staan op 43 punte, teenoor Watsonia se 12 wedstryde (2de, 48 punte) en Rangers se 11 wedstryde (1ste, 50 punte).

Nog SLC-aksie

Pniël Villagers, nog ‘n span wat sy stem in Superliga C dikmaak, sal hoop om Saterdag op sy wen-momentum voort te bou wanneer hy na Langa reis om met Busy Bee kragte te meet.

Die plaaslike span beklee tans die vierde plek op die punteleer, met 43 punte ná 11 wedstryde. ‘n Sege sal die span se topvier-status versterk, asook sy aanspraak op promosie.

Hy het die afgelope Saterdag met ‘n 37-34-sege oor Scottsdene-Central in Pniël sy kanse versterk en is vyf punte voor Eersterivier, wat die vyfde plek beklee.

Dus is laasgenoemde se komende wedstryd teen Raithby Universals (RU) in Raithby ook ‘n belangrike stryd vir Pniël.

RU het vroeër in die seisoen gesukkel, maar het ‘n paar weke gelede momentum gekry en gewys hy gaan lê nie plat nie.

Ander ligas

In Superliga A het Van der Stel-Evergreens weer eens die knie gebuig – die keer was dit Kuilsrivier wat op die Van der Stel-sportterrein ligte werk van die Stellenbossers gemaak het en ‘n 14-89-sege aangeteken het.

VDE is met -8 punte onder aan die punteleer, nadat hy weens verbeurde wedstryde deur die loop van die seisoen gestraf is. Gelukkig sal die span komende naweek ‘n ruskans geniet.

Franschhoek sal hoop om sy kanse vir oorlewing in Superliga A ‘n hupstoot te gee wanneer hy die komende naweek ná twee afweke weer in aksie is. Hy verwelkom die sukkelende Unimil op die Groendal-sportterrein met die hoop om die maksimum punte (5) uit die stryd te kry.

Die afgelope naweek het vir ‘n paar naelbyt-wedstryde in die Noordelike-liga gesorg.

Die voorloper, Blue Stars United, het sy nederlaag van die vorige naweek agter hom gesit en ‘n 38-36-sege oor Fisantekraal in Klapmuts behaal. Stellenbosch-Coronation het vyf punte opgetel ná Gordonsbaai Pioneers die wedstryd verbeur het.

Excelsior het veggees gewys, maar kon nie Faure se krag stuit nie (21-29), Whistling Wheels het Blakes tuis geklop (31-36) en Cloetesville het sy eerste wen van die seisoen gehad, met ‘n 24-21-oorwinning oor Police Blackheath.

Al die spanne in die Noordelike liga het die komende naweek ‘n loslootjie.

LEES OOK: Pniël Villagers staan sy man met Superliga C-sege teen Sir Lowrians

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article