Plaaslike entrepreneurs wat plaaslike probleme oplos is die strewe agter die Circular Cement-jeugentrepreneurskapprogram.
Die bekendstelling van die program is Donderdag 9 Julie by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad se Stellenbosch-kampus gehou.
Dié projek is ‘n gesamentlike program van Impact Hub Cape Winelands, die Universiteit Stellenbosch (US), die sosiale onderneming sonder winsbejag Fix Forword en entrepreneurs.
LEES OOK: Herwinning: Munisipaliteit se ‘Swop Shop’ help om koskassies vol te maak

Herwinning
Die idee het vlamgevat ná ‘n gesprek tussen prof. John Babafemi van die US se departement siviele ingenieurswese en Marli Goussard, mede-stigter van die Impact Hub.
Nou sal entrepreneurs in verskeie provinsies leer hoe om bakstene van afvalmateriaal te maak en hul eie ondernemings te bestuur.
Babafemi en sy span het navorsing gedoen oor die volhoubaarheid daarvan om bakstene van afvalmateriaal te maak.
Watter materiaal deur watter entrepreneur gebruik sal word sal afhang van die beskikbare afval in hul gebied.
In die Noord-Kaap kan dit die vliegas van Eskom wees, in KwaZulu-Natal word die boumateriaal dalk van suikerrietbagasse gemaak en in die Wes-Kaap kan ystererts-slak dalk die hoofbestanddeel vir die bakstene wees.
Volgens Babafemi is dit ‘n geleentheid om afvalprodukte te verminder en om bekostigbare bakstene te vervaardig.
“Dit was belangrik dat hierdie navorsing nie net op ‘n rak lê en stof opgaar nie. Ons wou die kundigheid in die hande van mense sit vir wie dit die grootste verskil sou maak. Hierdie program beteken ons navorsing kom tot uitvoering,” meen Babafemi.
Mentorskap
Die Worcesteriet Okuhle Makatesi is een van die entrepreneurs wat deel is van die projek, en hy is opgewonde oor wat dit vir sy onderneming kan beteken.
“Ek sien daarna uit om te kyk wat bakstene van alternatiewe afvalmateriaal prakties beteken wat betref die kostebesparing vir konstruksieprojekte asook hoe voordelig dit vir die omgewing is,” verduidelik hy.
“Indien dit slaag [om kostes te verminder] kan ons meer konstruksieprojekte aanpak wat ons in staat stel om meer geboue op te rig, meer werksgeleenthede te bied en ‘n volhoubare sakemodel te skep,” sê Makatesi.
Hoewel Makatesi se onderneming tans op konstruksie fokus, verduidelik hy sy strewe is om uiteindelik die konstruksie-waardeketting te skep waar sy eie bakstene, deur sy eie maatskappy vervoer word na projekte waar dieselfde onderneming die konstruksiewerk doen.
Benewens die bakstene sal die entrepreneur mentorskap ontvang, die tegniese kundigheid van die navorsing, entrepreneurskapondersteuning en geld.
Finansiering vir die program kom deels van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie van SA, die departement van indiensneming en arbeid en die Presidensiële Inisiatief vir Jeugindiensneming.
LEES OOK: New hub to tackle inequality through innovation in Cape Winelands






You must be logged in to post a comment.